Eko-minuut 13:30 nm
BULLETIN 12 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Vissery en die Omgewing, Barbara Creecy, het ‘n virtuele vergadering vir rolspelers gehou om Suid-Afrika se standpunt oor plastiekbesoedeling te verfyn. Dit volg aan die vooraand van die vierde vergadering van die tussen-regerings-onderhandelingskomitee in Ottawa, Kanada, einde April. Creecy wil die land se plan bevestig vir die beëindiging van plastiekbesoedeling en die bestuur van plastiek se lewensiklus. Sy wil ook ‘n regsbindende instrument skep om die storting van rommel in die see te beëindig, ‘n oplossing vind vir die kringloop van plastiek en ‘n reeks voorwaardes ontwikkel.
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, ontmoet vandag munisipaliteite in Gauteng en die Vrystaat oor die besoedeling van die Vaalrivier. Indringerplante neem oor weens die invloei van onbehandelde afvalwater. Vroeër vanjaar is ‘n spitsberaad gehou oor swak watergehalte en verhoogde risiko in munisipale afvalwaterstelsels. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê Mchunu sal met die munisipaliteite praat oor strategieë om watergehalte te verbeter en besoedeling stop te sit:
# En, om mee af te sluit: Salmhengel word vir ‘n tweede jaar verbied aan die kus van Kalifornië in Amerika. Die owerhede sê die laer visvoorraad is weens die droogte en veldbrande. Die swaar terugslag vir die staat se salmsektor, wat een bedryfsgroep sê 23-duisend werkgeleenthede steun, kom nadat salm gesukkel het om suksesvol voort te plant in lae of warm strome. Daar word gehoop die verbod, aangekondig deur Kalifornië se Departement van Vis en Natuurlewe, sal die staat se Chinook-salmvoorraad help herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….