Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap het die eerste in Suid-Afrika geword om ‘n tender te kry vir die instelling van groenwaterstofenergie-opleidingslypskole vir politici en senior regeringsamptenare op alle vlakke. Die instelling het ander top-universiteite uitgestof in die tenderproses. Doktor Stanford Chidziva van die UWK sê ingevolge die tweejaar-kontrak ter waarde van 1,6-miljoen-rand, sal UWK se Suid-Afrikaanse Instituut vir Gevorderde Chemiese Materiale vanjaar en volgende jaar sowat 12 opleidingsgeleenthede aanbied:
# Globale metaan-uitlatings van fossielbrandstof was verlede jaar naby rekordvlakke, met kommer oor onvoldoende pogings deur regerings en industrieë om die sterk kweekhuisgas in te perk. Volgens die Internasionale Energie-agentskap se metaan-verslag, moet die fossielbrandstofbedryf dringend metaanuitlatings met 75-persent besnoei teen 2030, in ooreenstemming met die Parys-ooreenkoms. Ondanks toenemende momentum en beloftes, is daar steeds nie beduidende uitlatingbesnoeiings nie, wat ‘n risiko is vir klimaatteikens.
# En, skeepsfirma-data toon die aanpassings aan die vaste seile aan die vragskip, Pyxis Ocean, het brandstofverbruik en koolstofdioksied-uitlatings aansienlik verminder. Die Brits-ontwerpte WindWings is vir ses maande getoets en het bewys dat wind moontlik die skeepsbedryf se koolstof-voetspoor kan verklein. Cargill berig die skip het daagliks gemiddeld drie-ton minder brandstof gebruik, met ‘n besparing van 11,2-ton koolstofuitlatings. Kenners wys ook daarop dat wind-tegnologie belangrik kan wees vir die vermindering van koolstof in die skeepsbedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….