Nuus 14:00
BULLETIN 4 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ondersoek na die voormalige hooflanddros Tuletu Tonjeni se gedrag begin
# Die Senzo Meyiwa-verhoor is onderbreek nadat beskuldigdes polisievervoer weier
# En aansoeke vir skool-oorplasings open in die Wes-Kaap
# Die Landdroskommissie begin vandag met ‘n ondersoek na ‘n klagte teen die voormalige hooflanddros van die Kwaggafonteinse Landdroshof in Mpumalanga, Tuletu Tonjeni. Die ondersoek volg op die Nasionale Vervolgingsgesag se kommer oor Tonjeni se hantering van ‘n afpersingsaak waarby die taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni betrek word. Die voormalige senior staatsaanklaer, Mkhuseli Ntaba, wat weens minagting van die hof aangekla is nadat hy nie in die hof verskyn het nie, sal na verwagting getuig. Die NVG verwelkom die ondersoek en glo dit sal bepaal of Tonjeni regmatig opgetree het tydens die omstrede verrigtinge.
Nog nuus uit die howe:
# Verrigtinge is onderbreek in die Senzo Meyiwa-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria nadat vier van die beskuldigdes blykbaar vanoggend geweier het om in die polisievoertuig te klim om hof toe te gaan. Vyf mans staan tereg op aanklag van moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein in 2014. Die staat sê die vier het beweer die voertuig is vuil en geweier om in te klim. Daar word tans aandag geskenk aan die kwessie. Dit is nog onduidelik wanneer die verhoor sal hervat terwyl alternatiewe vervoerreëlings oorweeg word.
# Burgerlike organisasies vra Suid-Afrikaners om deel te neem aan Saterdag se beplande landwye betoging teen xenofobie. July Eccles van die Siyafana Sonke-veldtog waarsku eiereg-groepe val stelselmatig buitelandse burgers aan. Dit sluit gedokumenteerde en ongedokumenteerde migrante van ander Afrikalande en gemeenskappe van Suid-Asiatiese oorsprong in. Eccles het met die oog op Vrouedag beklemtoon vroue se veiligheid is ononderhandelbaar. Sy sê plaaslike en migrante-vroue verdien om sonder vrees te leef:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het leerders in grade 2 tot 7 en 9 tot 12 se aansoeke vir skooloorplasings oopgestel vir 2027 se akademiese jaar. Die aansoektydperk duur tot 17 Augustus. Ouers kan aanlyn aansoek doen indien hul aan spesifieke oorplasingsvereistes voldoen, insluitend ‘n verandering van woon- of werkadres. Ander aansoeke moet regstreeks by die betrokke skole ingedien word. Woordvoerder Bronagh Hammond sê ondersteunende dokumente moet saam met die aansoeke ingedien word:
# Sokker: Die Premierliga het die MTN8 se kwarteindstryde vir hierdie naweek bevestig. Die verdedigende kampioen, Orlando Pirates, begin Saterdag hul poging vir ‘n rekord vyfde agtereenvolgende titel teen Durban City in Soweto. Mamelodi Sundowns is later die aand gasheer vir Polokwane City in hul eerste mededingende wedstryd van die nuwe seisoen. Sondag speel AmaZulu teen Sekhukhune United in Chatsworth, terwyl Kaizer Chiefs vir Golden Arrows op die FNB-stadion verwelkom. Chiefs is vol vertroue nadat hulle die afgelope naweek hul Premierliga-veldtog met ‘n oortuigende oorwinning oor Kruger United afgeskop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-416-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….