Eko-minuut 13:30
BULLETIN 4 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die 21ste jaarlikse Savanna-wetenskapnetwerk-konferensie word in Skukuza in die Krugerwildtuin gehou met meer as 200 wêreldwetenskaplikes en -navorsers wat dit bywoon. Die woordvoerder van die park, Isaac Phaahla sê besprekings fokus op die uitwerking van aardverwarming en die konflik tussen die natuurlewe en mense. Die konferensie lê klem op ekologiese patrone en holistiese bewaringspogings en dek onderwerpe soos kulturele erfenis, toerisme, mede-bestaan en natuurlewe misdaad:
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê skoonmaakspanne het 13-duisend-100 sakke vullis opgetel wat onwettig gestort is. Dit bring die totaal net vir Februarie op 55-duisend-750 te staan. Dis deel van sy Onwettige-storting-bewustheidsmaand. Boetes van vier-duisend-rand is uitgereik. Die munisipale bestuurder, Michele Gratz, sê meer as 97 onwettige stortingsbrandpunte is uitgewys en dis onmoontlik om almal dop te hou. Sy sê die publiek moet help deur onwettige storting aan te meld.
# En laastens, Afrika gaan van 2050 af voedsel- en waterskaarstes, asook werksverliese in landbousektore beleef as klimaatsverandering nie bekamp word nie. Dit is die bevinding van ‘n studie deur die Universiteit van die Witwatersrand. Volgens die studie sal gewasproduksie in Afrika teen 2030 met 2,9-persent en teen 2050 met 18-persent daal indien klimaatsverandering teen die huidige tempo voortgaan. Professor Philip Kofi Adom sê regerings moet privaat inisiatiewe in klimaatsaanpassing en -bekamping ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….