Nuus 13:00
BULLETIN 19 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Steve Letsike vra meer beskerming van vroue
# Twee verdagtes is vas ná die moord op polisiebeamptes in Libode
# En: Defend Our Democracy lei vandag verkiesingswaarnemers op
# Die adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, sê geslagsgeweld en vrouemoord is onaanvaarbaar en vereis dringende optrede. Dit volg na die ontdekking van nege liggame in Ekurhuleni oor die afgelope twee maande. Letsike sê ‘n taakspan is intussen saamgestel, terwyl van die slagoffers nog nie geïdentifiseer is of deur familielede opgeëis is nie. Sy vra deeglike ondersoeke om geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne te verseker:
# Die adjunkvoorsitter van die Unity Forum of Family Practitioners, Angelique Coetzee, vra waaksaamheid te midde van ‘n toename in A-pokke-gevalle, maar waarsku teen onnodige paniek. Coetzee het aan die SABC gesê enigiemand wat aan die virus blootgestel is of simptome soos koors, pynlike uitslae of blasies, kouekoors en geswelde limfkliere ontwikkel, moet onmiddellik mediese hulp kry. Sy versoek ook mense wat blootgestel is om hulself af te sonder vir tot 21 dae om verdere verspreiding te help voorkom:
# Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem en drie ander noodlottig gewond tydens operasies wat gevolg het ná die moord op twee polisiebeamptes in Libode in die Oos-Kaap gister. Adjudant-offisier Thando Magoxo en konstabel Ntlahla Tyhali het reageer op ‘n diefstal-voorval in ‘n spazawinkel toe hulle doodgeskiet en hul vuurwapens gesteel is. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, sê ‘n operasie van 72-uur is van stapel gestuur, waarin inligting ingesamel is en multidissiplinêre spanne ontplooi is. Dimpane sê aanvalle op die polisie ondermyn die oppergesag van die reg en sal nie geduld word nie:
# Defend Our Democracy lei vandag verkiesingswaarnemers in Lenasia, Johannesburg op in die aanloop tot die plaaslike verkiesing. Die opleiding het ten doel om gemeenskapswaarnemers toe te rus met vaardighede om die verkiesing te monitor en deursigtigheid, aanspreeklikheid en nakoming van verkiesingswette te bevorder. Deelnemers uit gebiede soos Lenasia, Diepkloof, Meadowlands, Orlando en Protea Glen sal opgelei word. Die opleiding vorm deel van ‘n nasionale toer, met sessies wat in September en Oktober in Gauteng, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap beplan word.
# Lesotho en Suid-Korea het tydens ‘n geleentheid in Maseru 60 jaar van diplomatieke betrekkinge herdenk. Die minister van Indiensneming en Arbeid, Ts’eliso Mokhosi, het die verhouding beskryf as een van wedersydse respek en samewerking. Hy het Suid-Korea se ondersteuning vir vaardigheidsontwikkeling deur die Koreaanse Internasionale Samewerkingsagentskap beklemtoon. Mokhosi sê Lesotho wil die samewerking verder uitbrei op gebiede soos hernubare energie, landbou, vervaardiging, toerisme en digitale dienste:
# En laastens, rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap sal in die komende seisoen steeds toelaat dat afrigters voor wedstryde privaat met skeidsregters vergader. Wêreldrugby se verbod op sodanige interaksie het Rassie Erasmus en Dave Rennie tydens die onlangse toetsreeks tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland frustreer en tot ‘n waarskuwing gelei dat afrigters die media kan gebruik om die skeidsregter se aandag te trek. Die hoof van die VRK-skeidsregters, Tappe Henning, sê die kommunikasie is noodsaaklik vir die ontwikkelingsaard van die kompetisie. Die VRK skop volgende naweek af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….