Eko-minuut 13:30
BULLETIN 13 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Wind-energie-vereniging het die uitstel vir kommentaar op die voorlopige Geïntegreerde Hulpbron-plan tot 23 Maart verwelkom. Die IRP is ‘n kragopwekkingsplan wat elektrisiteitsvoorsiening wil verseker. Die vereniging se uitvoerende hoof, Niveshen Govender, sê die uitstel sal die Departement van Minerale Bronne en Energie geleentheid gee om president Cyril Ramaphosa se plan vir meer hernubare energie te inkorporeer vir ‘n kragtiger, inspirerende IRP wat deurlopende elektrisiteit sal verseker.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Water en Sanitasie sê die eerste ses maande van die 2023/2024-boekjaar was ‘n groot sukses wat die uithaal van indringerplante betref. Dis gedoen in samewerking met die Groter-Kaapstad-waterfonds. Aanvanklik is 30-duisend-972 hektaar indringerplante verwyder en daarna nog 18-duisend-740 hektaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê 16,1-miljard liter water is gespaar wat neerkom op 44-miljoen liter per dag:
# En, laastens: Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê ou bande word nou gebruik om sekere onwettige stortingsterreine te verfraai en plantegroei aan te moedig, in ‘n poging om te keer dat gemeenskappe herhaaldelik op dieselfde plek stort. Inwoners word versoek om die stad te help om onwettige storting hok te slaan deur die nuus te versprei die storting van afval is gevaarlik en hou ‘n gesondheidsgevaar in. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê afval moet in vullissakke gegooi word en op afvalverwyderingsdae vir versameling geplaas word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….