Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Green Connection sê hy is tevrede dat Turkye se Karpowership sy plek wat Eskom vir hom in die netwerk uitgehou het kwyt is omdat hy die finansiële spertyd van 31 Desember misgeloop het. Karpowership het verlede jaar vir ‘n tydperk van 20 jaar toegang verkry tot drie hawens – Durban, Ngqura en Saldanhabaai – as deel van die oplossing vir die land se energiekrisis. Liz McDaid van Green Connection sê Karpowership was ‘n duur en omstrede projek:
# Globale verhitting weens die verbranding van fossielbrandstowwe wat deur die El Niño-weerverskynsel vererger word, gaan die temperature in Mei tot 1,7-grade Celsius bo die gemiddeld voor industrialisasie laat styg. So waarsku ‘n voormalige wetenskaplike van die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, James Hansen. Regerings wat verlede maand die Verenigde Nasies se klimaatsberaad in Dubai bygewoon het, het die Paryse Ooreenkoms van 2015 bevestig om die wêreldwye styging in temperature onder 1,5-grade te probeer hou. Hansen sê doelgerigte pogings is nodig om die wêreld se energiebalans te behou.
# En laastens, Omgewingsbewaarders in die weste van Thailand vier die sukses van hul tierbewaringsprojek. Owerhede berig dat ‘n tierwyfie met twee welpies in die Salak Phra-wildbewaringsgebied opgemerk is nadat hulle die projek fyn gemonitor het. Die bewaringsbestuurder van die Panthera-organisasie se plaaslike tak, Rattapan Pattanarangsan, sê Thailand kan nou tiere teel. Hy sê die land se verbintenis tot bewaring werp nou vrugte af nadat tiergetalle oor die afgelope 12 jaar merkbaar toegeneem het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….