Eko-minuut 13:30
BULLETIN 10 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Doktor Mokgadi Hlongwane van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie spog met een van die wenprojekte van die toonaangewende Elsevier-stigting se Chemie vir Klimaatsverandering-uitdaging. Dit vind praktiese en uitvoerbare oplossings wat klimaatverwante probleme in ontwikkelende streke aanpak. Hlongwane se grensverskuiwende voorstel om klimaatsverandering se uitwerking op medisinale plante en oeste te verbeter, is een van die twee wenprojekte vir 2025. Sy ontvang ‘n toelaag om groen en volhoubare chemie-oplossings te bevorder wat klimaatsoptrede en geslagsgelykheid bevorder.
# Die Krugerwildtuin sê hy is tevrede met die sukses van die 22ste jaarlikse vergadering van die Savanna-wetenskapnetwerk. Meer as 200 wetenskaplikes uit 21 lande het die driedaagse konferensie in Mpumalanga bygewoon. Die doel was om wetenskaplikes, navorsers, bewaringsbewustes en beleidmakers byeen te bring om die uitdagings te pak van savannas en mense wat daarop staatmaak. Onderwerpe soos klimaatsveerkragtigheid, volhoubaarheid en kunsmatige intelligensie is bespreek.
# En ten slotte: ‘n Studie deur die Oseane-instituut aan die Universiteit van Wes-Australië, dui aan die wêreld het in 2020 sy verwarmingsdrempel van 1,5-grade Celcius oorskry. Wetenskaplikes het lewende Karibiese sklerosponse bestudeer en ‘n oseaan-temperatuur-tydlyn geskep wat terugdateer na die 1700’s. Die studie toon die wêreld het ongeveer 80 jaar voor die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering se ramings begin opwarm. Die studie se hoofopsteller, Malcolm McCulloch, sê die aardverwarmings-tydlyn vir die vermindering van uitstralings om gevaarlike klimaatsverandering te versag, moes minstens ‘n dekade vroeër begin het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….