Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir ernstige donderstorms oor Gauteng vandag. Dit kan insluit erge weerlig, stormsterk wind wat skade kan veroorsaak en swaar reën. Die vooruitsig vir reën is 50-persent. Die woordvoerder vir Johannesburg se noodbestuursdienste, Robert Mulaudzi, sê motoriste word versoek om uiters versigtig te bestuur in die reëntoestande en oorstroomde paaie en laagwaterbrûe te vermy:
# Die Stad Tshwane en vrywilligers van die studente-omgewingsgroep ASEZ het die naweek met ‘n projek begin om die Hennopsrivier op te ruim. Die rivier is een van Gauteng se mees besoedelde riviere. Die burgemeesterskomiteelid vir Omgewingsake, Obakeng Ramabodu, het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika ‘n beroep op die nasionale regering gedoen om met skoonmaakoperasies in die rivier te help. Ramabodu sê versuim om op te tree, kan tot cholera-uitbrekings en omgewingsgevare lei.
# En ten slotte: Mpact Recycling waarsku dat dit gevaarlik is om nie op die regte wyse van litiumioon-batterye ontslae te raak nie. Dié batterye raak al gewilder vir sonkraggebruik. Besturende direkteur John Hunt sê mense moet dit nie saam met huishoudelike afval weggooi of in herwinningshouers plaas nie, omdat dit aan die brand kan slaan. Dit moet in houers vir gevaarlike huishoudelike afval geplaas of by insamelingspunte of dienste soos Circular Energy ingehandig word, omdat die veilige wegdoen hiervan noodsaaklik is vir die bewaring van ekostelsels en mense se gesondheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….