Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika het navorsers oor klimaatsverandering in Afrika genooi om aansoek te doen vir befondsing deur die Belmont Forum se samewerkende navorsingsprojek. Dit het ten doel om navorsing oor klimaatsvolhoubaarheid op die vasteland te bevorder. Voorstelle moet temas soos die verband tussen water, energie, voedsel en gesondheid, besoedeling en rampgereedheid aanpak. Navorsingskonsortiums wat om befondsing aansoek doen, moet transdissiplinêr wees, en navorsers uit die maatskaplike wetenskappe en verskeie lande moet betrek word.
# Griekeland se gewildste toeristebestemming, die Akropolis in Athene, was gister tydens die warmste ure van die dag gesluit. Die land het sy vroegste hittegolf ooit ervaar, wat tot skoolsluitings en gesondheidswaarskuwings gelei het. Die ministerie van Kultuur sê die Unesco-terrein sou van 12-uur tot 5-uur die middag sluit, met temperature wat na verwagting vandag ook 43-grade Celsius sal bereik. Die eerste hittegolf van die jaar in Griekeland, wat gereeld tot verswelgende somertemperature lei, sal sy hoogtepunt oor die twee dae bereik, wat tot nog sluitings kan lei.
# En ten slotte: ‘n Muskiet-indringerspesie het hom tuisgemaak in 13 lande in die Europese Unie, wat Frankryk, Spanje en Griekeland insluit, en kenners verbind hulle teenwoordigheid met die toename in knokkelkoors. Die Europese Sentrum vir Siektevoorkoming en -beheer sê klimaatsverandering skep gunstige omstandighede vir die verspreiding van die tiermuskiet. Die owerhede moniteer en vang die insekte sover noord as Parys, waar die OIimpiese Spele aan die einde van Julie begin. Muskiete het die afgelope twee dekades ‘n toenemende gevaar in Europa geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….