Eko-minuut 13:30
BULLETIN 10 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensiële Klimaatskommissie is baie bekommerd oor die land se voorbereidheid vir klimaatsverandering en uiterste weerstoestande. Dit volg nadat groot dele van die land die afgelope week swaar reën en oorstromings ondervind het, insluitend ‘n tornado in KwaZulu-Natal. Crispian Olver van die kommissie sê dringende werk is nodig om die land se veerkragtigheid te verbeter om dié soort weerverskynsels te hanteer.
# Die minister van Bosbou, Vissery en die Omgewing, Barbara Creecy, vra Suid-Afrikaners om te help om marine-besoedeling te verminder deur volhoubare praktyke, soos herwinning, om minder rommel te strooi en te help om strande op te ruim. Oseane beïnvloed weerpatrone, ondersteun verskeie ekostelsels en bied ‘n bestaan aan miljoene mense wêreldwyd, insluitend 40 persent van Suid-Afrika se bevolking wat binne 100 kilometer van die kus woon. Creecy sê baie van die wêreld se oseane bly onontdek, wat die behoefte beklemtoon vir toenemende bewusmaking en bewaring.
# En, die jaarlikse sardientjie-loop het begin, met die eerste groot netvangs wat aan die KwaZulu-Natalse suidkus aangemeld is. Hibberdene en Lucienstrand naby Margate het die eerste vangste aangeteken. Hierdie natuurverskynsel bevoordeel inwoners en visondernemings en lok roofdiere soos walvisse en haaie, sowel as internasionale besoekers. Die skool sal na verwagting mik na Durban, afhangend van wind en strome. Intussen is strande in Amanzimtoti en die omgewing vir swemmers gesluit as gevolg van die sardientjie-loop en die gepaardgaande haai-bedrywighede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….