Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria teen die Nasionale Energiereguleerder en die Turkse maatskappy Karpowership is ‘n belangrike oorwinning vir die burgerlike samelewing. OUTA het Nersa se goedkeuring uitgedaag van kragopwekkingslisensies vir Karpowership, weens onregverdigheid in die proses en ‘n gebrek aan deursigtigheid. Stefanie Fick van OUTA loof die koste-bevel en volle onthulling as ‘n presedent vir verbeterde oorsig oor regulasies:
# Die V&A-Waterkant in Kaapstad het sy energieverbruik met 40-persent verminder en 62-persent van sy afval wat vir stortingsterreine bedoel was, vir hergebruik aangewend. Dit is alles reggekry sedert hy in 2008 met volhoubaarheidsprojekte begin het. Die gebied het ook sy koolstof-uitlatings met 47-persent verminder. Woordvoerder Donald Kau sê hulle beplan om die enkelgebruik van plastiek teen volgende jaar uit te skakel en toe te sien dat nuwe geboue aan ‘n minimum netto-zero groen standaard voldoen.
# En ten slotte: Die heropbou van die geraamde 200-duisend geboue wat in die eerste vier maande van Israel se aanval op Gaza vernietig is, sal byna 60-miljoen ton koolstofdioksied skep. Dis volgens navorsing wat op die Social Science Research Network gepubliseer is. Die medeskrywer, Ben Neimark, sê een van die gevolge van die oorlog is die skending van die reg op ‘n skoon, gesonde en volhoubare omgewing. Hy sê die wêreld fokus wel op die humanitêre aspek, maar die gevolge vir die klimaat is ook ʼn probleem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….