Nuus 13:00
BULLETIN 12 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika keur steun van 50-miljoen-rand aan Gaza goed
# Die ATM eis verkiesingsgeregtigheid met die OVK wat beskuldig word van wanoptrede
# En, Olimpiese Spele: Die wêreldrekordhouer stel die tweede vinnigste tyd ooit in die 100-meter-rugslag op tydens die Australiese proewe
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Ronald Lamola, het aangekondig Suid-Afrika het 50-miljoen-rand goedgekeur om die mense van Gaza te ondersteun. Hy het ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei na die Gaza-ondersteuningskonferensie in Jordanië. Lamola sê Suid-Afrika steun ook die Internasionale Geregshof se regsverteenwoordiger, Karim Khan, om mense vir die oorlog in Gaza aanspreeklik te hou:
# Die African Transformation Movement nader die Kieshof oor bewerings van wanoptrede deur die Verkiesingskommissie se voorsitter, Mosotho Moepya. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê hulle advokaat, Winston Erasmus, voer oortuigend aan dat Moepya na bewering saamgesweer het met die ANC om die ATM te ondermyn. Ntshona sê dit sluit pogings in om die party te deregistreer en die verkiesingsuitkoms te manipuleer:
# Die president van Malawi, Lazarus Chakwera, het 21-dae van rou aangekondig vir die ontslape vise-president, Saulos Chilima, en nog nege mense wat dood is toe hulle militêre vliegtuig vroeër die week neergestort het. Vlae sal in dié tydperk halfstok hang. Die minister van Inligting, Moses Kunkuyu, het bevestig al die liggame is uitgeken en begrafnisreëlings word vandag bespreek. Die groep was op pad na die begrafnis van oudminister Ralph Kasambara. Die oud-presidentsvrou Shanil Dzimbiri was ook onder die passasiers.
# Olimpiese Spele: Die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 100-meter-rugslag, Kaylee McKeown, het die tweede vinnigste tyd ooit in die item opgestel tydens Australië se proewe vir die Spele in Parys. Sy het klaargemaak in 57,41-sekondes, net ‘n bietjie stadiger as haar wêreldrekordtyd van 57,33-sekondes. McKeown het daarmee vir Mollie O’Callaghan geklop, wat slegs die vierde swemmer geword het om onder 58-sekondes klaar te maak. O’Callaghan kan in Parys onttrek weens ‘n besige skedule, terwyl Iona Anderson ook gekwalifiseer het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-454-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Pick n Pay en die Suid-Afrikaanse Agri-inisiatief het saamgespan om steun aan plaaslike boere te versterk, insluitend groter blootstelling aan verbruikers. Dit gaan deur ‘n televisieprogram en borgskap van die Lamb Champs-kompetisie gedoen word. Dié derde jaarlikse kompetisie fokus op lamsvleisprodukte. Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, sê die kompetisie gee verbruikers ‘n groter waardering vir lamsvleisprodukte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….