Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Ses jong klassieke en jazz-pianiste is gekies as finaliste vir die 15de Unisa Internasionale Klavierkompetisie. Die finaliste in die jazz-kategorie is die Suid-Afrikaner, Zibusiso Makhathini, die Amerikaner, Tomás Jonsson, en Dabin Ryu van Suid-Korea. Die finaliste in die klassieke kategorie is Elizaveta Ukrainskaia van Rusland, William Bracken van die VK, en Leo De Maria van Spanje. Die finale rondes vind môre en Saterdag plaas, en die prysuitdeling word by Unisa se ZK Matthews-grootsaal in Pretoria gehou.
# Gauteng se LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Landbou, Landelike Ontwikkeling en die Omgewing, Mbali Hlophe, bied vandag in Boksburg ‘n afskeidseremonie aan vir 250 begunstigdes van maatskaplike ontwikkeling wat verlede jaar matriek geslaag het. Onder die begunstigdes is leerders in pleegsorgprogramme, en diegene in kinder- en jeugsorgsentrums in die provinsie wat deur die staat bestuur en befonds word. Die departement sê hulle sal die leerders vereer en toerus vir hulle naskoolse onderrig en studies.
# Die Stad Kaapstad het die nuwe Invest Cape Town-sentrum geopen, wat ‘n veeldoelige sentrum sal wees vir ekonomiese bedrywighede. Die sentrum sal die nodus wees vir netwerkgeleenthede en skakeling met beleggers, hoëvlak-afvaardigings en belanghebbendes. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die spilpunt is deel van die stad se verbintenis om meer werkskeppende beleggings te bring, en dis ‘n plek waar beleggers hulself ook op hoogte kan bring van, en verdiep in, alles wat in Kaapstad aangaan:
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Oos-Kaap het die bekendstelling van die Maatskaplike-noodverligting-skooldrag-program aangekondig. Dit het ten doel om skooldrag te verskaf aan kinders uit ekonomies benadeelde agtergronde, wat onder die armoedegrens val. Die departemente het tot vyf-duisend-rand per leerder bewillig vir die aankoop van uniforms. Maatskaplike Ontwikkeling beplan ook om in die huidige boekjaar 35-miljoen-rand aan sanitêre waardigheidspakkies te bestee.
# En ten slotte: Die sanger en liedjieskrywer, Tracy Chapman, is terug in die kollig wanneer sy Sondag op die Grammy-toekennings haar lied Fast Car saam met die country-sanger, Luke Combs, sing. Sy het sedert haar laaste toer in 2009 nog net drie keer voor die kameras opgetree. Combs se weergawe van die lied was verlede jaar die vyfde beste in Amerika en het selfs Taylor Swift se Anti-Hero die loef afgesteek. Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah sal die Grammys in Los Angeles aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….