Nuus 15:00
BULLETIN 21 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra meer gebalanseerde handel tussen Suid-Afrika en Zimbabwe
# Die Gautengse regering moedig inwoners aan om water spaarsamig te gebruik terwyl aanvraag styg
# En tennis: Die Amerikaanse Ope se prysgeld van 1,74-miljard-rand is die grootste in Grand Slam-geskiedenis
# President Cyril Ramaphosa vra verhoogde en meer gebalanseerde handel tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Hy het tydens die vierde sitting van die Suid-Afrika-Zimbabwe-binasionale kommissie in Pretoria gesê bilaterale handel het die afgelope vier jaar byna verdubbel, maar bly steeds swaar in die guns van Suid-Afrikaanse uitvoere. Hy dring aan dat albei lande die Afrika-vryhandelsgebied gebruik om produksie en uitvoere uit te brei:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het fase drie van die Regering-Sakevennootskap verwelkom, wat toerisme as ‘n sleutel-aandrywer van ekonomiese groei en werkskepping identifiseer. Dis gemik op die verhoging van ekonomiese groei bo drie-persent, met voorkeurgebiede soos die verbetering van lugtoegang, die modernisering van visumverwerking, die verbetering van bestemmings-bemarking, toeriste-veiligheid en infrastruktuur-belegging. De Lille sê toerisme betree die nuwe fase met ‘n gevestigde openbare-privaat vennootskap, aangesien die sektor 954-duisend regstreekse werksgeleenthede ondersteun en in 2024 4,9 persent tot die bruto binnelandse produk bygedra het.
# Die Gautengse regering vra inwoners, ondernemings en instellings om water spaarsamig te gebruik terwyl verbruik steeds styg. Die bergingsvlakke van reservoirs daal steeds, hoewel pompstelsels byna voluit werk. Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane is verantwoordelik vir ongeveer 70-persent van die water wat deur Rand Water voorsien word. Die provinsie sê die herstel van lekkasies, korter storte en die vermyding van onnodige gebruik van tuinslange kan help om die druk te verlig. Gemeenskapsontwikkelingswerkers word ook ontplooi om waterbesparing en gedragsverandering te bevorder.
# Tennis: Die algehele prysgeld van vanjaar se Amerikaanse Ope beloop 1,74-miljard-rand, wat die grootste vergoedingspakket in die sport se geskiedenis is. Dis 20-persent meer as verlede jaar. Die twee enkelspelkampioene ontvang elk 88,4-miljoen-rand, en eersteronde-verloorders 2,25-miljoen-rand – die grootste bedrag in die geskiedenis vir spelers wat bloot die hooftrekking gehaal het. Die pakket sluit ook ‘n nuwe speler-ondersteuningsprogram in. Die uitvoerende hoof van die Amerikaanse tennisvereniging, Craig Tiley, sê hulle is trots om die rekord-prysgeld aan te bied en spelers se voordele uit te brei.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-483-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-597-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-85-sent per vat.
# En laastgens, die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings is noodsaaklik om vroue te motiveer en meisies aan te moedig om loopbane in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde te volg. Hy sê die toekennings vorm deel van ‘n breër hervormings-program, ondersteun deur beurse, nagraadse befondsing en bystand vir opkomende navorsers. Nzimande sê vroue het reuse- potensiaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….