Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die strafpuntstelsel vir verkeersoortredings word uitgestel
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sluit ‘n bouterrein in Pretoria weens veiligheidskwessies
# En, rugby: ‘n Reuse-stryd word verwag wanneer Frankryk en Ierland die Sesnasiesreeks afskop
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom die besluit om die instelling van fase twee van die Wysigingswet op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, oftewel AARTO, uit te stel. Dit sou vandag ingestel word. Die party het die wet deurgaans gekritiseer omdat dit inbreuk maak op padgebruikers se regte op administratiewe geregtigheid. Die DA-lid, Derrick America, voer aan die wet stel boete-invordering bo padveiligheid. Hy voeg by die vertraging dui op ‘n gebrek aan gereedheid om die gebrekkige stelsel in te stel:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid se gesamentlike blits-inspeksie het gelei tot die staking van bedrywighede by ‘n bouperseel in Gwendolenweg en Kendallaan in Pretoria-Noord. Die inspeksie het aan die lig gebring Central Development Projects verontagsaam arbeidswette, insluitend die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid. Die onderneming het ook voortgegaan met bouwerk al is die terrein onveilig verklaar. Die departement se provinsiale hoofinspekteur, Michael Msiza, het die belangrikheid van voldoening beklemtoon en ondernemings aangemoedig om die veiligheid van werkers voorop te stel.
# Amerika kyk daadwerklik na die vestiging van ‘n onafhanklike Palestynse staat met sekerheidswaarborge vir Israel. Die woordvoerder van die Departement van Buitelandse Sake, Matthew Miller, wou nie meer besonderhede verstrek nie, maar het op ʼn nuuskonferensie gesê die poging is ʼn doelwit van die administrasie van president Joe Biden. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, het volgens berigte ook aan ʼn groep wetgewers gesê die Britse regering en sy bondgenote sal die kwessie van die erkenning van ʼn Palestynse staat bespreek.
# Rugby: Die Sesnasiesreeks begin môreaand in Marseille met ʼn reuse-wedstryd tussen Frankryk en Ierland. Die verdedigende kampioen, Ierland, het verlede seisoen die Grand Slam ingepalm en begin met ‘n nuwe hoofstuk na die uittrede van die losskakel en kaptein, Johnny Sexton. Jack Crowley is nou op nommer tien, met Peter O’Mahoney aangewys as nuwe kaptein. Afrigter Andy Farrell sê hulle is opgewonde oor die wedstryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-192-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-19-sent per vat.
# Ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, sê hy is diep hartseer oor die afsterwe van die legendariese musikant en aktivis, Tony Cedras. Hy word wêreldwyd erken as ‘n multi-instrumentalis en ‘n voorstander van die Khoi-San-erfenis, en word met liefde onthou vir sy besonderse bydraes tot Kaapstadse jazz. Volgens Kodwa het Cedras ‘n deurslaggewende rol gespeel in die gebruik van kuns as instrument vir maatskaplike verandering tydens die bevrydingstryd. Sy woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Cedras laat ‘n blywende nalatenskap as ‘n kulturele ambassadeur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….