Nuus 06:00
BULLETIN 5 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC oorweeg korrupsiebewerings tydens sy kandidaat-keuring
# Dit is vandag maak-of-breek Super Dinsdag vir Amerikaanse presidensiële kandidate
# En rugby: Kaartjies vir die Bokke se eerste toets teen Ierland is binne halfuur uitverkoop
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party oorweeg korrupsieklagtes teen sy lede met die afhandeling van die kandidaat-keuringsproses. Die nasionale uitvoerende komitee het vergader om die kandidaatlyste vir provinsiale wetgewers en die parlement te oorweeg, voor Vrydag se spertyd van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Volgens Mbalula sal die NUK deeglik besin oor al die name, en aspekte oorweeg soos prestasie en integriteit voordat die afgehandelde lyste ingedien sal word. Hy gee die versekering van deursigtigheid en sê spesifieke verduidelikings sal gegee word wanneer die proses afgehandel is:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering maak vordering met die professionalisering van die staatsdiens. In sy weeklikse nuusbrief sê die president die Wysigingswetsontwerp op Openbare Administrasiebestuur en die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens, sal die funksionering van die staatsdiens verbeter, aanspreeklikheid versterk en doeltreffendheid verhoog. Die Nasionale Vergadering het die wetgewing goedgekeur en dit sal nou voor die Nasionale Raad van Provinsies dien. Ramaphosa sê die twee wette sal ook uitvoering gee aan die staatskapingsondersoek se aanbevelings.
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, lei vandag een van die grootste afsny-veldtogte as deel van die #TshwaneYaTima-veldtog. Die veldtog is daarop gemik om 23,3-miljard-rand in te samel wat klante aan die metro skuld. Verlede maand is 70 inwoners se krag en water afgesny omdat hulle munisipale rekeninge agterstallig was. Die metro sê hulle fokus vandag op inwoners en sakeondernemings wat baie krag en water gebruik maar wie se skuld agterstallig is. Hulle water- en elektrisiteitsdienste sal afgesny word.
# Die KwaZulu-Natalse premier, Nomusa Dube-Ncube, sê die staking deur werknemers van die eThekwini Munisipaliteit verbonde aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie pleeg ‘n misdaad en ekonomiese sabotasie en dit kom neer op hoogverraad. Werkers staak sedert verlede Dinsdag en eis billike lone. Dube-Ncube sê die Regs- Misdaadvoorkomings- en Sekerheidsgroep en sakeondernemings in eThekwini, het met verskeie ingrypings vorendag gekom:
# Amerikaners in nagenoeg 15 state gaan vandag na die stembus op wat bekend staan as Super Dinsdag. Die mylpaal op die veldtog-kalender is deurslaggewend vir Donald Trump se presidensiële benoeming vir die Republikeinse Party. Super Dinsdag is die grootste enkele stemdag in die land se uitgerekte, staat-tot-staat voorverkiesingseisoen. Met die wedloop wat nou al hoe strawwer raak, is dit vandag ‘n maak-of-breek vir kandidate. Meer as ‘n derde van die Republikeinse afgevaardigdes wat sal deurgaan na die party se nasionale benoemingskonvensie in Julie, sal vandag aangewys word.
# Rugby: Springbok-ondersteuners sal teleurgesteld wees oor die nuus dat al die algemene kaartjies vir hulle eerste tuistoets van die jaar uitverkoop is. Dit het net 30 minute geduur vir al die kaartjies vir die toets teen Ierland op Loftus Versfeld in Pretoria op die sesde Julie om opgeraap te word. Maar daar is nog geleenthede. Kaartjieverkope vir die tweede toets ‘n week later in Durban open Dinsdag. Die wêreldkampioene skop hulle seisoen af op 22 Junie teen Wallis op Twickenham in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-05-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-535-dollar-08-sent. Die prys van goud is twee-duisend-113-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….