Nuus 18:00
BULLETIN 19 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Landbou kondig die grootste invoere ooit van bek-en-klouseer-entstowwe aan
# Cosatu is bemoedig deur die daling van die inflasiekoers tot 3,5-persent
# En, PwC voorspel ‘n geleidelike groei op die vooraand van die 2026-begrotingstoespraak
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika sal maandeliks tot vyf miljoen bek-en-klouseer-entstowwe ontvang as deel van ‘n massa-inentingsveldtog. Volgens News24 sal die eerste besending van een-miljoen dosisse uit Argentinië hierdie naweek aankom, met meer wat volgende week volg en maandelikse voorrade wat teen volgende maand sal styg. Inentings sal fokus op gebiede wat die ergste getref is, onder meer KwaZulu-Natal, Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga. Steenhuisen het bevestig entstowwe sal bekostigbaar vir boere wees.
# Cosatu sê hy is bemoedig deur die effense daling in die inflasiekoers in Januarie. Die hoofverbruikersinflasie het in Januarie tot 3,5-persent op ‘n jaargrondslag verlangsaam, van 3,6-persent in Desember. Die hooffaktore wat tot Januarie se koers bygedra het, was nutsdienste, voedsel en nie-alkoholiese drankies, en versekering en finansiële dienste. Matthew Parks van Cosatu sê die daling is ‘n welkome verligting vir werkers:
# Die ouditmaatskappy PwC Suid-Afrika verwag die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se 2026-begroting sal aandag skenk aan geopolitieke gevare, fiskale samesmelting en strukturele hervormings. Die voorspelling vir die groei van die Bruto Binnelandse Produk is hierdie jaar 1,2-persent en dit sal teen 2028 tot 1,5-persent styg. Byna 78-persent van die BBP bestaan uit skuld, met die Tesourie wat na verwagting die pad na bestendigheid sal uiteensit. PwC verwag geen groot verhogings in belasting op toegevoegde waarde of korporatiewe belasting nie, maar daar sal waarskynlik verhogings in brandstof- en aksynsbelasting wees.
# Die seun van die voormalige Zimbabwiese president, Robert Mugabe, Bellarmine Mugabe, is in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy na bewering ‘n tuinier by ‘n woning in Hydepark gewond het. Nog ‘n persoon is ook in hegtenis geneem. Die woordvoerder van die Polisie, Dimakatso Nevhuhulwi sê die omstandighede rondom die voorval is onduidelik. Nevhuhulwi sê Mugabe Junior het homself na bewering in ‘n kamer toegesluit voordat hy hom oorgegee het, en die polisie soek na die wapen wat in die voorval gebruik is:
# Motorsport: Die wêreld se vinnigste motorfietse sal vanjaar vir die laaste keer op Phillip-eiland in Australië jaag nadat die organiseerders van MotoGP aangekondig het dit word van volgende jaar af met ‘n straatwedren in Adelaide vervang. Dit sal ‘n einde bring aan die eilandwedren wanneer die kontrak na byna drie dekades aan die einde van die seisoen verstryk. Suid-Australië het die wedren vir Adelaide vir die volgende ses jaar verseker, wat die eerste MotoGP-wedren in ‘n middestad is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-962-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-980-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….