Nuus 11:00
BULLETIN 7 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Indiensneming en Arbeid gaan voort met voldoeningsinspeksies teen oortredings van die Immigrasiewet
# Cosatu verwelkom Fitch se besluit om Suid-Afrika se gradering na BB te verbeter
# En tennis: Mirra Andreeva wen haar eerste Grand Slam by die Franse Ope in Parys
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sal voortgaan met voldoeningsinspeksies om oortredings van die Immigrasiewet en die Wet op Indiensnemingsdienste te bekamp. Woordvoerder, Teboho Thejane, sê die departement wysig die Wet op Indiensnemingsdienste om die Nasionale Arbeidsmigrasiebeleid wettig af te dwing. Hy sê die bygewerkte wetgewing brei Artikels 8 en 9 uit om die indiensneming van buitelandse burgers sonder geldige werkpermitte te beperk, kwotas in spesifieke sektore af te dwing, en werkgewers te verplig om voorkeur aan plaaslike kandidate te gee en vaardigheidsoordrag te bevorder:
# Cosatu verwelkom Fitch se besluit om Suid-Afrika se langtermyn kredietgraderings vir beide buitelandse en plaaslike valuta-kredietgraderings van ‘BB-negatief’ na ‘BB’ te verhoog en die bestendige vooruitsig te handhaaf. Dit is die tweede opgradering deur ’n graderingsagentskap vir Suid-Afrika in die afgelope maand. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks sê dit dui op groeiende internasionale vertroue dat Suid-Afrika se pogings om te hervorm, staatsinstellings te versterk, ekonomiese groei aan te dryf en werk te skep, toenemend vorder:
# Eskom handhaaf verbeterings in sy kragstelselprestasie namate die winter-aanvraag toeneem, met opwekkingsbeskikbaarheid wat jaarliks verbeter en meer as 700-duisend huishoudings wat nie meer worstel met lasvermindering nie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hierdie winste word gedryf deur sterker aanlegprestasie, verbeterde betroubaarheid en geteikende netwerk-ingrypings om plaaslike beperkings aan te pak, sodat meer gemeenskappe voordeel kan trek uit ononderbroke kragvoorsiening:
# Die Stad Kaapstad sê hy bied die meeste belastingverligting en -voordele vir pensioenarisse en behoeftige huishoudings. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê dit is gegrond op ‘n vergelyking van die 2026/27-konsepbegrotings vir die land se vyf grootste metro’s. Hy sê pensioenarisse in Kaapstad het die wydste kwalifiserende kriteria vir kortings en die stad is die enigste van dié metro’s wat noodsaaklike elektrisiteit bied aan pensioenarisse met ‘n maandelikse huishoudelike inkomste van tot 27-duisend rand. Hy sê in ander stede moet pensioenarisse as behoeftiges geklassifiseer word om te kwalifiseer:
# Polisie is op soek na verdagtes nadat minstens 12 mense naby ‘n fees in Toledo, in die Midde-Weste van Amerika geskiet is. Tien mense is volgens berigte in ‘n bestendige toestand, maar twee is in ‘n bedenklike toestand. Die slagoffers se ouderdomme wissel van 16 tot 61 jaar oud. Die adjunk-polisiehoof van Toledo, het gesê dit lyk asof twee mense wapens afgevuur het en “waarskynlik op mekaar geskiet het”. Die fees is ‘n tweedaagse geleentheid wat een van die grootste geskiedkundige distrikte in die land vier met lewendige musiek, verskeie voedselmarkte, ‘n biertuin en huistoere.
# En tennis: Die 19-jarige Mirra Andreeva is die jongste vrouekampioen op Roland Garros in 34 jaar, na ‘n 6-3, 6-2 oorwinning oor die Poolse kwalifiseerder, Maja Chwalinska, in die eindstryd. Andreeva is die eerste Russiese vrou wat ‘n groot titel wen sedert Maria Sharapova se triomf op Roland Garros in 2014. Sy is ook die eerste speler wat ná 2005 gebore is, man of vrou, om ‘n Grand Slam-trofee op te lig. Sy het haar Roland Garros-debuut as 16-jarige in 2023 gemaak en die derde ronde bereik voordat sy die halfeindronde in 2024 gehaal het en ‘n jaar later die kwarteindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….