Nuus 08:00
BULLETIN 7 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê sommige sakesektore maak staat op buitelandse arbeid
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid verwelkom ‘n deurbraak in die massaskietery in Motherwell
# En rugby: Die Bulle veg terug en bespreek ‘n plek in die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê sommige sakesektore in Suid-Afrika, insluitend gasvryheid, die boubedryf, landbou en informele handel, maak grotendeels staat op buitelandse arbeid. Die departement se woordvoerder, Teboho Thejane, sê die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste is tans voor die Suid-Afrikaanse Parlement om die arbeidsmark te vernuwe, hoofsaaklik deur streng beheer toe te pas op die indiensneming van buitelandse burgers:
# Die polisie en die weermag gaan voort met pogings om netwerke van georganiseerde misdaad tot niet te maak wat wat betrokke is by onwettige mynbou, bendeverwante geweld en ander ernstige en geweldsmisdaad. ‘n Polisiewoordvoerder, Mpho Mathebula, sê gekoördineerde multidissiplinêre operasies is in Mei regoor die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap uitgevoer, waarin duisend-287 verdagtes vir ‘n reeks ernstige oortredings in hegtenis geneem is:
Die Oos-Kaap se LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, het die deurbraak verwelkom in die massaskietery in Motherwell, Gqeberha, waarin vyf jong mans onlangs doodgeskiet is. Dit volg na die inhegtenisneming van ‘n 28-jarige buitelander in verband met die moorde. Die woordvoerder van die departement Makhaya Komisa, sê die regering waarsku misdadigers dat hulle geen misdadige optrede in die provinsie sal duld nie:
# Die waarnemende uitvoerende hoof van City Power, Charles Tlouane, het ‘n streng waarskuwing aan kliënte gerig wat steeds nie vir hul munisipale dienste betaal nie en munisipale regulasies verontagsaam. Hy sê City Power is baie bekommerd oor die blatante verontagsaming van regulasies en die toenemende aantal kliënte wat steeds elektrisiteit gebruik, maar doelbewus nié daarvoor betaal nie. Tlouane sê van die ernstigste oortreders is kliënte wat in welgestelde woonbuurte woon:
# Rusland sê Oekraïne het die gebied digby St Petersburg aangeval, op die laaste dag van ‘n ekonomiese forum in die stad. Meer as 140 hommeltuie is oor die omliggende Leningrad-streek afgeskiet. Die stad se inwoners is vir die eerste keer sedert Rusland se volskaalse inval in Oekraïne in 2022, gevra om binnenshuis te bly. Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky het gesê sy magte het Rusland se wapendepots en ‘n vlootbasis geteiken in reaksie op Russiese aanvalle. Dit volg ‘n dag nadat die Russiese president Vladimir Putin gesê het daar is geen rede vir regstreekse samesprekings met Zelensky om die oorlog te beëindig nie.
# En rugby Die Bulle het hul pad terug geveg in een van die Verenigde Rugbykampioenskap se grootste opskuddings in die kompetisie se geskiedenis. Hulle het Glasgow Warriors met 22-21 geklop nadat hulle na die eerste 30 minute met 21-3 agter was in Saterdag se halfeindstryd op Murrayfield. Die Bulle sal nou Leinster vir die tweede agtereenvolgende jaar in die VRK-eindstryd pak nadat die Ierse span die Stormers in ‘n spannende halfeindstryd op die Aviva-stadion geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….