Nuus 09:00
BULLETIN 6 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fitch glo President Ramaphosa sal sy pos behou, in weerwil van die ampsklagkomitee oor die Phala Phala-kwessie
# Die Kabinet bevestig die finale sluiting van die Gautengse e-tol-projek
# En, Sokker: Vuvuzelas is verbode by Wêreldbekerstadions
# Die Fitch-graderingsagentskap glo President Cyril Ramaphosa sal sy pos behou, in weerwil van die ampsklagkomitee wat die Parlement verlede maand oor die Phala Phala-kwessie op die been gebring het. Fitch verwag die ANC met 40-persent van die setels in die Parlement sal president bly ondersteun. Die agentskap verwag dat spanning in die ANC en die regering van nasionale eenheid waarskynlik sal toeneem, met die komende plaaslikeregeringsverkiesing in November wat ‘n drukpunt kan wees. Hy verwag egter dat die regering van nasionale eenheid sy volle termyn sal oorleef.
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê Suid-Afrika verwelkom die Afrika-Unie se verklaring van 2026 as die Jaar van Water. Sy sê dit is ‘n belangrike erkenning dat watersekerheid noodsaaklik is om die vasteland se ontwikkelingsverwagtinge te bereik. Majodina het die openingsrede tydens die Raad van Ministers van die Incomati- en Maputo-rivierbekkenskommissie in Boksburg, Ekurhuleni, toegespreek. Die minister het gewaarsku dat klimaatsverandering, vinnige verstedeliking, bevolkingsgroei en stygende wateraanvraag toenemende druk op waterbronne regoor die streek plaas:
# Die Kabinet het die finale sluiting van die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek se e-tol-stelsel goedgekeur, insluitend die ordelike oplossing van verwante regsake en uitstaande skuldaangeleenthede. Dit volg na die besluit om elektroniese tolheffing in April 2024 te beëindig. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die sluiting bring ‘n einde aan ‘n langdurige kwessie oor infrastruktuurfinansiering:
# Die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê baie van die buitelandse burgers wat deur die onlangse onrus in Kleinmond geraak is, is wettig in Suid-Afrika. Ongeveer 100 persone wat ontheem is word tans in die stadsaal gehuisves, terwyl sommige vrywillige repatriasie oorweeg. Wyksraadslid Grant Cohen sê gesinne, insluitend kinders wat plaaslike skole bywoon, is gedwing om skuiling te soek as gevolg van vrees en intimidasie. Cohen het inwoners gewaarsku om nie reg in eie hande te neem nie.
# Sokker: Toeskouers sal nie toegelaat word om vuvuzelas na Wêreldbeker-wedstryde te neem nie. Die wêreldbeheerliggaam FIFA het die plastiekhorings op stadions in Kanada, die VSA en Mexiko verbied. In die 2010-toernooi in Suid-Afrika was vuvuzelas oral, maar was nie so gewild by die res van die wêreld nie as gevolg van hul eentonige dreungeluid. FIFA het ook fluitjies, lughorings en ander oordrewe harde geraasmakers verbied. Die toernooi begin Donderdag met die openingswedstryd tussen Bafana Bafana en Mexiko in Mexikostad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….