Nuus 11:00
BULLETIN 6 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering verwelkom Fitch se besluit oor Suid-Afrika se langtermyn-kredietgraderings
# Die Forum for South Africa verwelkom die afdanking van Richard Shibiri
# En, Tennis: ‘n Nuwe vroue-kampioen word vandag op Roland Garros gekroon
# Die Regering het Fitch se besluit verwelkom oor die opgradering van Suid-Afrika se langtermyn-kredietgradering vir buitelandse sowel as die plaaslike geldeenhede van ‘BB-minus’ tot ‘BB’, en om sy stabiele vooruitskouing te behou. Volgens Fitch weerspieël die opgradering Suid-Afrika se rekord van omsigtige fiskale bestuur en sy vordering met fiskale konsolidasie, ondanks swak ekonomiese groei en binnelandse sowel as eksterne skokke. Fitch sê dit laat die verhouding tussen die regering se skuld en die bruto binnelands produk heelwat laer as in 2020 toe hy tot ‘BB-minus” afgegradeer is. Die Regering sê dit is Suid-Afrika se eerste opgradering deur Fitch in byna 21 jaar.
# Die Forum for South Africa het die afdanking verwelkom van die gewese hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, Richard Shibiri, ná ‘n interne tugproses. Die leier van Fosa, Tebogo Mashilompane, sê dit is uiters kommerwekkend dat ‘n senior polisiebeampte wat met die stryd teen georganiseerde misdaad toevertrou is, in die tugverhoor aan wangedrag skuldig bevind is. Hy sê dit is selfs meer kommerwekkend dat Shibiri na bewering geld van Vusimuzi Cat Matlala ontvang het, soos wat voor die Madlanga-kommissie getuig is:
# AfriForum sê die Stad Johannesburg het ‘n verhoging van 65,6-persent in die wateraanvraagbestuursheffing goedgekeur sonder om sleutelinligting te verskaf oor hoe die verhoging bereken is. Die organisasie voer aan daar word van inwoners verwag om kommentaar te lewer op die begroting sonder toegang tot die nodige besonderhede, wat openbare deelname waardeloos maak. Marais de Vaal van AfriForum sê die verhoging, van 65-rand-agt sent tot 107-rand-74-sent per maand, is nie deursigtig en behoorlike regverdig nie:
# ‘n Buitelandse burger is gister aangekeer in verband met die moord op vyf jong mans in Motherwell in die Oos-Kaap. Die polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê die 28-jarige man se arrestasie volg na die massa-skietery in ‘n huis in Motherwell verlede maand. Gantana sê die polisie het inligting opgevolg wat daartoe gelei het dat die verdagte gister in hegtenis geneem is:
# Tennis: Alexander Zverev is op die rand van sy eerste langverdiende Grand Slam-titel nadat hy Vrydag as tweede gekeurde in vier stelle met Jakub Mensik afgereken het en daarmee sy plek in die eindstryd van die Franse Ope bespreek het teen die tiende gekeurde Flavio Cobolli. Zverev het al verskeie major-titels net-net misgeloop en het drie maal in eindstryde gespeel, insluitend twee jaar gelede teen Carlos Alcaraz op Roland Garros. Hy kom as sterk gunsteling teen Cobolli te staan, teen wie hy drie van sy vorige vier kragmetings gewen het.
# ‘n Nuwe vroue-kampioen word intussen vandag gekroon op die Franse Ope in Parys. Die wêreld-nommer-sewe, Mirra Andreeva van Rusland, kom te staan teen Maja Chwalinska van Pole, die eerste kwalifiseerder in die beroepsera om die vroue-eindstryd op Roland Garros te haal. Die 24-jarige is 114de in die wêreld en het verskeie spelers hoër op op die ranglys verslaan om die eindstryd te haal. Die 19-jarige se beste ander Grand Slam-uitslag was die kwarteindronde op Wimbledon verlede jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….