Nuus 18:00
BULLETIN 29 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa moedig voortgesette steun vir grondhervorming aan ná titelaktes
# ‘n Parlementslid van die MK-party Vusi Shongwe gaan voor die Madlanga-kommissie getuig
# En motorsport: Marquez van Ducati sê hy het tyd nodig om te herstel voor hy weer kan jaag
# President Cyril Ramaphosa sê grondhervorming gaan oor die herstel van waardigheid en die regstelling van ongeregtighede in die verlede. Die president het ‘n oorhandigingseremonie vir titelaktes in Setlagole in die Noordwes gelei. Meer as 300 huishoudings in Setlagole en Madibogo het titelaktes ontvang ingevolge die regering se grondhervormingsprogramme, terwyl boere volle eienaarskap van voorheen gehuurde staatsgrond gekry het. Ramaphosa het in sy hoofrede voortgesette ondersteuning en vinniger verwerking van uitstaande eise belowe:
# ‘n Parlementslid van die MK-party, Vusi Shongwe, is genader om voor die Madlanga-kommissie te getuig ná bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Shongwe het aan die Parlement se Ad Hoc-komitee gesê sy getuienis hou verband met ‘n vergadering in Durban wat hy op uitnodiging van die hoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan bygewoon het. Khan is onlangs in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met beweerde oortredings van die Wet op Edelmetale:
# Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid het die Tussentydse Raad vir Tradisionele Gesondheidspraktisyns gekritiseer omdat die Wet op Tradisionele Gesondheidspraktisyns byna twee dekades ná sy goedkeuring steeds nie volledig toegepas word nie. Voorsitter, Faith Muthambi, sê die gebrek aan regulasies, toepaslike afdwingingsmeganismes en ‘n nasionale register vir praktisyns stel gemeenskappe steeds bloot aan onveilige praktyke. Komiteelede het ook vrae gevra oor die Raad se beperkte begroting en die stadige vordering met die integrasie van tradisionele medisyne in die breër gesondheidsorghervormings, insluitend die Nasionale Gesondheidsversekering.
# Polisie in Brisbane het vyf betogers gearresteer toe hulle ‘n stadspark ontruim het waar die hoofstadion vir die Olimpiese Spele in 2032 gebou sal word. ‘n Koalisie van omgewingsbewustes en inheemse aktiviste is gewaarsku hulle sal verwyder word as hulle nie die park ontruim nie. Inheemse groepe se aansoek aan die Australiese regering om die park altyd as ‘n “belangrike inheemse gebied” te beskerm is steeds uitstaande, maar werk aan die terrein begin nietemin Maandag. Die arena sal 63-duisend sitplekke hê en die stadion is die middelpunt van Australië se derde Olimpiese Spele.
# Motorsport: Die heersende MotoGP-kampioen Marc Marquez het bespiegelings afgemaak voor sy moontlike terugkeer na die Italiaanse Grand Prix die naweek en sê hy het tyd nodig om weer in topvorm te kom nadat hy twee operasies na ‘n ongeluk ondergaan het. Marquez het die Franse Grand Prix sowel as die hele Katalaanse Grand Prix-naweek misgeloop nadat hy sy voet in die ongeluk by Le Mans gebreek het. Die Spanjaard het gesê sy skouerbesering is sy grootste kopseer eerder as sy onlangse voetfraktuur. Marquez is tans negende op die jaer-punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-542-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….