Nuus 17:00
BULLETIN 29 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementslid van die MK-party Vusi Shongwe gaan voor die Madlanga-kommissie getuig
# ‘n Ontploffing tref ‘n tweede Woolworths-winkel
# En rugby: Marcell Coetzee is terug om die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd te lei
# ‘n Parlementslid van die MK-party, Vusi Shongwe, is genader om voor die Madlanga-kommissie te getuig ná bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Shongwe het aan die Parlement se Ad Hoc-komitee gesê sy getuienis hou verband met ‘n vergadering in Durban wat hy op uitnodiging van die hoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan bygewoon het. Khan is onlangs in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met beweerde oortredings van die Wet op Edelmetale:
# ‘n Ontploffing in die vroeë oggendure het ‘n tweede Woolworths-winkel getref, hierdie keer in Bloemfontein, nadat ‘n soortgelyke voorval in die Menlynpark-winkelsentrum in Pretoria vroeër die week plaasgevind het. Volgens berigte het ‘n ploftoestel binne in die winkel ontplof. Geen beserings is aangemeld nie. Owerhede ondersoek die omstandighede rondom die ontploffing en of die voorvalle moontlik met mekaar verband hou. Die polisie het veiligheidsmaatreëls verskerp terwyl ondersoeke voortduur.
# Die Forum for South Africa sê ‘n besluit deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verhoog, is ‘n ekonomiese straf vir die armes en die werkersklas. Die terugkoopkoers is nou sewe-persent, met die prima uitleenkoers wat van 10,25-persent tot 10,5-persent styg. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê hul verwerp die idee dat dit ‘n oplossing is om verbruikers verder te belas, terwyl die werklike oorsake van die ekonomiese ineenstorting onaangeraak bly:
# Agt studente wat na bewering betrokke was by vermeende brandstigting is in hegtenis geneem. Die voorval het by ‘n Keniaanse meisieskool plaasgevind en 16 leerders is dood. Die brand het deur die Utumishi Girls Academy in Gilgil gewoed, ongeveer 120-kilometer noordwes van die hoofstad Nairobi. Die Nasionale Polisiediens sê die agt leerlders is geïdentifiseer ná onderhoude met leerders en personeel en ‘n forensiese oorsig van kringtelevisie-beeldmateriaal. Kenia het ‘n lang geskiedenis van skoolbrande, waarvan baie weens brandstigting was, terwyl ander deur ongelukke veroorsaak is.
# Rugby: Die Bulle het verskeie veranderinge aangebring aan die span vir môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Munster opLoftus Versfeld. Kurt-Lee Arendse keer terug op vleuel, terwyl Stravino Jacobs ook terug is in die begin-vyftiental. Onder die voorspelers is kaptein Marcell Coetzee terug na ‘n besering en in die lostrio langs Cameron Hanekom en Elrigh Louw. In die tweede ry skuif Ruan Vermaak van die plaasvervangersbank saam met Ruan Nortje. Die Bulle hoop om ‘n vyfde agtereenvolgende keer na ‘n VRK-halfeindstryd deur te dring en uiteindelik te seëvier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-529-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….