Nuus 13:00
BULLETIN 29 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Busisiwe Mkhwebane-stigting vra ‘n Amerikaanse ondersoek na die gesteelde Phala Phala-geld
# Cosatu prys die Grensbestuursowerheid oor ‘n reuse-dwelmfonds van een-miljard-rand op die Beitbrug-grenspos
# En: ‘n Blue Origin-vuurpyl ontplof tydens ‘n toetslopie in Florida
# Die Busisiwe Mkhwebane-stigting het die FBI en ander owerhede in Amerika genader om te bepaal of die geld wat tydens die inbraak op Phala Phala in 2020 gesteel is, Amerikaanse wette teen geldwassery en valutasmokkelary oortree. Die stigting se woordvoerder, Shirley Willemse, sê die versoek fokus op die oorsprong, berging en beweging van Amerikaanse dollar wat na bewering op president Cyril Ramaphosa se wildplaas gehou is. Die saak trek steeds politieke aandag, met hernude oproepe vir deursigtigheid en verantwoordbaarheid oor hoe buitelandse valuta hanteer word.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die Grensbestuursowerheid verdien lof vir die onderskepping van ‘n dwelmbesending ter waarde van byna een-miljard-rand op die Beitbrug-grenspos in Musina, Limpopo. Drie verdagtes is ook in hegtenis geneem. Ondersoeke is tans aan die gang om die beoogde bestemming van die dwelms te bepaal en om uit te vind of die sindikaat deel vorm van ‘n breër misdaadnetwerk wat binne die streek of wêreldwyd bedrywig is. Matthew Parks van Cosatu sê dit is ‘n belangrike deurbraak in die stryd teen georganiseerde misdaadsindikate:
# Die Stad Tshwane sê hy het ‘n gekoördineerde operasionele reaksieplan ingestel om Rand Water se onderbreking vir instandhoudingswerk wat vandag begin, te hanteer. Instandhouding aan die Palmiet- en Zuikerbosch-waterstelsels sal na verwagting voorsiening aan 69 reservoirs in Streek 1, 2, 3, 4 en 6 raak, en groot druk plaas op die metro se waterverspreidingsnetwerk. Die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Frans Boshielo, sê inwoners kan tot Dinsdag lae waterdruk en tydelike onderbrekings verwag:
# Blue Origin sê die ontploffing van hul New Glenn-vuurpyl tydens ‘n toets op ‘n lanseerplatform in Florida, was weens ‘n tegniese fout. Die platform is sekondes na die geskeduleerde toets begin het, deur ‘n enorme vuurbal vernietig. Niemand is beseer nie. Blue Origin se stigter, Jeff Bezos, sê hulle ondersoek tans die oorsaak. Hy voeg by hulle sal herbou en vlugte sal weer voortgaan. Die voorval is ‘n groot terugslag vir die onderneming in sy poging om Elon Musk se oorheersende SpaceX die stryd aan te sê.
# Tennis: Die 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena Williams, beplan glo om volgende maand haar terugkeer te maak op die grasbane van Queen’s Club in Londen. Die 44-jarige Amerikaner het ʼn los lootjie versoek om in die dubbelspel saam met die Kanadees, Victoria Mboko, te speel ná ses maande in die opkikker-toetsgroep. Williams het laas in 2022 in die Amerikaanse Ope gespeel en gesê sy het nie uitgetree nie, maar eerder net weg beweeg van die sport. Mboko weier om die berigte te bevestig:
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-767-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-524-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….