Nuus 12:00
BULLETIN 29 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsamptenare vra strenger optrede ná klagtes teen werknemers van Binnelandse Sake
# Johannesburg Water stel maatreëls in terwyl Rand Water se beplande instandhouding begin
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter sê geestelike fokus is die naweek belangrik in Spanje
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek oor agt-duisend-180 werknemers van die departement Binnelandse Sake wat die afgelope vyf boekjare aangekla is van werkverskaffing aan buitelanders sonder wettige permitte. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ses-duisend-279 inspeksies en ondersoeke by werkplekke is in dieselfde tyd gedoen in ‘n poging om immigrasiewette af te dwing. Claude Naicker van die vereniging sê sterker interdepartementele koördinasie is nodig om seker te maak immigrasie, arbeid en wetstoepassingowerhede tree samehorig op:
# Die Madlanga-ondersoekkommissie oorhandig vandag sy tweede tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa. Die kommissie is in September verlede jaar aangestel ná bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Tot dusver is 60 mense se getuienis aangehoor. Die tweede tussentydse verslag sal na verwagting fokus op dwelmkartelle en die onwettige beweging van dwelms. Die kommissie sal sy finale, omvattende verslag aan die einde van Augustus oorhandig. Die verhore word Maandag hervat.
# Johannesburg Water sê omvattende operasionele en kommunikasie-maatreëls is ingestel as deel van sy gereedheid vir Rand Water se beplande instandhouding wat van vandag tot Dinsdag sal duur. Talle gebiede in die stad sal na verwagting in hierdie tyd lae waterdruk ondervind of geen water hê nie. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê watertenkwaens sal in die betrokke gebiede ontplooi word:
# ‘n Russiese hommeltuig het ‘n woonstelgebou in Galați, Roemenië, getref en twee mense beseer. Die stad is op Oekraïne se grens. Die hommeltuig is deur ‘n radar in Roemeense lugruim opgemerk, en was deel van ‘n oornag-aanval op burgerlike teikens en infrastruktuur in Oekraïne. Die Roemeense Ministerie van Buitelandse Sake sê die voorval verteenwoordig ‘n ernstige en roekelose verskerping van Rusland se optrede. Sedert die oorlog in Oekraïne begin het, is oorblyfsels van hommeltuie al 47 keer op Roemeense grondgebied gevind, met 12 vanjaar.
# Rugby: Die Springbok Sewes se afrigter Philip Snyman, sê die naweek sal ‘n sterk geestelike fokus deurslaggewend wees in die tweede van drie Wêreldreeks-toernooie in Valladolid, Spanje. Suid-Afrika het die eerste kampioenskapstoernooi in Hongkong gewen. Die Blitsbokke speel vandag twee Groep A-wedstryde, teen Groot-Brittanje en Kenia, en Saterdag pak hulle Australië. Snyman sê hulle sal die naweek hul beste vertoning van die seisoen moet lewer om te kan wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-600-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-517-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….