Nuus 11:00
BULLETIN 29 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa ontvang vandag die Madlanga-kommissie se tweede tussentydse verslag
# Die SANW verwerp berigte van ontplooiing oor ‘n moontlike betoging teen onwettige buitelanders
# En die Trump-administrasie vehoog die druk op Iran se lugdiensnetwerk
# Die Madlanga-ondersoekkommissie oorhandig vandag sy tweede tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa. Die kommissie is in September verlede jaar aangestel ná bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Tot dusver is 60 mense se getuienis aangehoor. Die tweede tussentydse verslag sal na verwagting fokus op dwelmkartelle en die onwettige beweging van dwelms. Die kommissie sal sy finale, omvattende verslag aan die einde van Augustus oorhandig. Die verhore word Maandag hervat.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê berigte dat soldate ontplooi gaan word omdat beplande optogte en betogings volgende maand verwag word, is vals en misleidend. Die groep teen onwettige immigrante, March and March, beplan ‘n sluiting vir 30 Junie en eis dat onwettige immigrante wat in Suid-Afrika woon, onmiddellik en in massas gedeporteer word. Die weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die Grondwet laat vreedsame optogte toe:
# Die IVP sê die moorde op openbare verteenwoordigers, veral in aanloop tot die munisipale verkiesing in November, is tragies en diep kommerwekkend vir Suid-Afrika se demokrasie. Dit volg na die moord gisteraand op die party se raadslid van die Rand West City plaaslike munisipaliteit in Gauteng, Mbuso Mzwandile Mthimkhulu. Die 46-jarige is tydens ʼn gemeenskapsvergadering in Bekkersdal doodgeskiet. Die IVP se woordvoerder Mkhuleko Hlengwa, sê sy party veroordeel die sinnelose daad van geweld en doen ʼn beroep op die polisie om die oortreders dringend aan te keer en te straf:
# Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, sê die administrasie verhoog druk op Iran se lugdiensnetwerk as deel van strenger sanksies verbonde aan kernkragonderhandelinge. Amerika en Iran is volgens berigte naby aan ‘n ooreenkoms wat onder meer insluit die verlenging van die skietstilstand, die heropening van die Hormoes Seestraat en onderhandelinge oor Teheran se kernprogram. Bessent het gewaarsku enige maatskappy of land wat die staatsbeheerde Iranese lugdiens help funksioneer, hulself sanksies op die hals kan haal:
# Krieket: ‘n Plek in Sondag se eindstryd van die Indiese Premierliga is vandag op die spel in die tweede kwalifiseerder tussen Gujarat Titans en Rajasthan Royals in Nieu-Chandigarh. Titans het tweede op die punteleer geëindig, maar met 92 lopies teen die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, verloor in Dinsdag se eerste kwalifiseerder. Die vierde-geplaasde Rajasthan het Sunrisers Hyderabad met 47-lopies geklop in Woensdag se uitskakelstryd, toe die tiener-sensasie Vaibhav Sooryavansha 97 van net 29 balle gemoker het. Vandag se wenner pak RCB in die titelstryd in Ahmedabad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-677-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-519-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….