Nuus 13:00
BULLETIN 28 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party se hoofsweep word in hegtenis geneem vir bedrog
# Paroolbeamptes is oorweldig en onderbeman met meer as 27-duisend voortvlugtige paroolgangers
# En Jill Biden sê sy het gedink haar man kry ‘n beroerte tydens sy debat teen Trump in 2024
# Die MK-party se hoofsweep, Mmabatho Mokoena-Zondi, is in hegtenis geneem op aanklag van bedrog. Die Direktoraat van Voorkeur-misdaadondersoeke sê Mokoena-Zondi het na bewering in 2024 vier navorsers gewerf en tussen 50- en 60-persent van hul salarisse geëis, en beweer die geld was nodig vir regskoste verbonde aan die party se president, Jacob Zuma. Die Valke se woordvoerder, Zinzi Hani, sê die beweerde bedrog beloop meer as 233-duisend-rand. Mokoena-Zondi sal na verwagting later vandag in die Kaapstadse Landdroshof verskyn.
# Paroolbeamptes van die Departement van Korrektiewe Dienste sê hulle het te min hulpbronne, is onderbeman en oorweldig, en moet weekliks groot getalle paroolgangers monitor. ‘n AmaBhungane-ondersoek het aan die lig gebring die departement kan nie rekenskap gee van bykans 28-duisend voortvlugtige hoërisiko-paroolgangers nie. Daar is tans 44-duisend-857 paroolgangers en slegs 968 paroolbeamptes. AmaBhungane sê die beamptes se hoofbekommernisse is ‘n gebrek aan voertuie, toegang tot vuurwapens en die gevare wat gepaardgaan met die monitering van ernstige en gewelddadige oortreders.
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n dwelmbesending ter waarde van 998,2-miljoen-rand onderskep op die Beitbrug-grenspos in Musina, Limpopo. Drie Malawiese burgers is aangekeer. ‘n Intelligensie-gedrewe operasie wat uit die Nasionale Teiken-sentrum bedryf word, het ʼn vragmotor geïdentifiseer wat deur Zimbabwe na Beitbrug reis. Volgens die Grensbestuursowerheid is die voertuig onderskep en met die gesofistikeerde vragmotor-skandeerder op die perseel ondersoek. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê ʼn versteekte ruimte is ontdek:
# Sokker: Die Kaizer Chiefs-legende Willard Katsande sê die klub het die regte besluit geneem om van mede-afrigters Cedric Kaze en Khalil Ben Youssef afskeid te neem nadat hulle besluit het om nie hul kontrakte te hernu nie. Die besluit volg ondanks hul derde plek in die Premierliga, hul beste plasing in jare. Die twee het die leisels oorgeneem na die vertrek van die voormalige hoofafrigter, Nasreddine Nabi, in Oktober verlede jaar. Kasande het aan TimesLIVE gesê die klub het nou ‘n ervare reekswenner-afrigter nodig voor die nuwe seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-268-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-391-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige Amerikaanse presidentsvrou Jill Biden sê sy was bang haar man, Joe, kry ‘n beroerte tydens sy berugte debat teen Donald Trump in 2024. Hy het herhaaldelik oor woorde gestruikel en onregstreeks geantwoord op vrae. Baie lede van die Demokratiese Party het hom daarna aangemoedig om uit die presidents-wedloop te tree, wat hy gedoen en visepresident Kamala Harris onderskryf het. Biden het aan CBS News gesê die debat was vreesaanjaend.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….