Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: President Cyril Ramaphosa sê Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het die beste span gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Broos het die nuweling-verdedigers Olwethu Makhanya en Bradley Cross ingesluit by sy groep van 26 wat deur die doelwagter Ronwen Williams aangevoer word. Suid-Afrika speel op 11 Junie in die openingswedstryd teen Mexiko. Ramaphosa vra die spelers om sportmangees, kameraadskap, professionalisme en spanwerk te toon:
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap het spelers gewaarsku dat hulle gestraf sal word as hulle te erg aangaan wanneer hulle besluite op die veld betwis. Spanne het gekla oor sekere spelers, veral van Ierse provinsies, wat skeidsregters voortdurend uitdaag en vra vir hersienings van moontlike kopkontak. Die hoof van die VRK-skeidsregters, Tappe Henning, sê kapteins word toegelaat om die skeidsregter te nader om ‘n kwessie te opper, maar die res van die spelers kan nie skree of besluite oor aspekte van die spel betwis nie. Die kwarteindrondes van die VRK vind hierdie naweek plaas.
Nog rugbynuus: Die Blitsbok-speler Gino Cupido sê hulle sal hierdie naweek van vooraf begin, ondanks hul onlangse suksesse. Suid-Afrika het die internasionale sewesreeks beklink voordat hulle in Hongkong die eerste van drie wêreldkampioenskaps-toernooie gewen het. Die tweede vind hierdie naweek in Valladolid, Spanje, plaas, waar die Blitsbokke teen Groot-Brittanje, Kenia en Australië in Groep A te staan kom. Die laaste toernooi word vroeg volgende maand in Bordeaux, Frankryk, gespeel. Cupido sê hy wil die span weereens help om na glorie te streef.
# Krieket: Die tienersensasie Vaibhav Sooryavanshi het Rajasthan Royals tot ‘n oorwinning van 47 lopies oor Sunrisers Hyderabad gelei in hul Indiese Premierliga-uitskakelstryd. Die 15-jarige Sooryavanshi het 97 van net 29 balle gemoker en Royals het 243 vir agt gehaal. Jofra Archer het daarna drie paaltjies platgetrek en Sunrisers in hul laaste boulbeurt help uitboul vir 196. Rajasthan Royals speel môre teen Gujarat Titans in die tweede kwalifiseerder. Die wenner speel Sondag in die eindstryd teen die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru.
# En tennis: Die driemalige kampioen, Novak Djokovic, sê die Franse Ope se hitte-reëls moet verander. Die Serwiër het gistermiddag teen die plaaslike speler Valentin Royer gespeel terwyl die temperatuur in Parys bo 30-grade Celsius was. Djokovic stel voor Roland Garros moet spel staak tydens die dag, soos by die Australiese Ope, of wedstryde moet later begin, selfs al moet deelnemers tot laat in die nag speel wanneer dit koeler is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….