Nuus 16:00
BULLETIN 27 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie gaan ‘n gedragskode oor waninligting bekendstel
# Die DA waarsku teen vertragings in die Phala Phala-ampsklagproses
# En sokker: Thlopie Motsepe prys Sundowns se spelers, personeel en ondersteuners ná hulle CAF-oorwinning
# Die Verkiesingskommissie gaan ‘n konsep-gedragskode oor waninligting vir openbare kommentaar vrystel voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo het in Midrand gesê die kode moet die integriteit van die verkiesingsproses beskerm teen gemanipuleerde en bedrieglike aanlyn inhoud op sosiale media. Hy bevestig die kommissie werk saam met burgerlike samelewingsgroepe om voorsorgmaatreëls teen waninligting te versterk:
# Die DA sê die Parlement se ampsklag-proses oor die Phala Phala-saak moet voortduur ondanks president Cyril Ramaphosa se aansoek om ‘n regs-hersiening. Die party vra die Parlement om dringend die reëls en verwysingsraamwerk vir die ampsklag-komitee af te handel soos die Konstitusionele Hof gelas het. Woordvoerder George Michalakis kritiseer Ramaphosa se plan om moontlik ‘n interdik teen die Parlement te bekom. Hy waarsku dit kan tot onnodige vertragings lei:
# Die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, waarsku sensitiewe inligting op elektroniese toestelle wat tydens ‘n polisie-klopjag by sy huis in Houghton afgeneem is, kan tot sluipmoorde lei en nasionale veiligheidsbedrywighede in gevaar stel. Hy het die Hooggeregshof in Johannesburg genader en beklemtoon die toestelle bevat hoogs-sensitiewe intelligensie-inligting en besonderhede oor geheime agente en voortgesette ondersoeke. Khan vra ook dat enige inligting wat van die toestelle afgelaai is, permanent verwyder moet word. Khan is vroeër die maand in hegtenis geneem vir die beweerde onwettige besit van onverwerkte goud.
# Die Nasionale Gesondheidsdepartement digitaliseer verkrygingstelsels om korrupsie in openbare hospitale te bekamp. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die hervormings aangekondig tydens ‘n besoek aan die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg. Dit volg op kritiek oor vertragings met herstelwerk ná die brand van 2021. Motsoaledi sê elektroniese verkryging sal deursigtigheid en verantwoordbaarheid verbeter deur hospitaalpersoneel regstreeks te betrek by aankoopbesluite, en sal geleenthede vir korrupsie in die gesondheidsorgstelsel verminder.
# Sokker: Die voorsitter van Mamelodi Sundowns, Thlopie Motsepe, het die spelers, afrigtingspersoneel en ondersteuners geprys na die klub se tweede titel in die CAF-kampioeneliga. Motsepe sê die span het dwarsdeur ‘n moeilike seisoen veerkragtigheid en eenheid getoon, veral na die teleurstelling in Kaïro, Egipte, vroeër in die veldtog. Motsepe het afrigter Miguel Cardoso geloof vir die vasberadenheid en krag wat hy by Sundowns se tradisionele aanvallende styl gevoeg het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-745-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-450-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….