Nuus 18:00
BULLETIN 25 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi se borgtogverhoor word tot Donderdag uitgestel
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom ‘n uitspraak wat die reg om te staak onder internasionale reg bevestig
# SAHPRA sluit ‘n onwettige aanleg vir gewigsverliesmedisyne in Pretoria
# Die saak teen die vermeende politieke tussenganger Brown Mogotsi is tot Donderdag uitgestel vir die bevestiging van sy adres. Mogotsi, wat vandag in die Johannesburgse Landdroshof verskyn het, staan tereg op aanklagte van regsverydeling en vuurwapenverwante oortredings. Die staat beweer hy het ’n sluipmoordpoging op homself nagemaak en het probeer om ‘n ondersoekbeampte om te koop. Mogotsi se prokureur, William Sekgatja, weerlê egter die bewerings en ontken enige oortreding:
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa moet die Nasionale Raad oor Geslagsgeweld se raadslede onmiddellik aanstel. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede het in Maart name vir raadslede aan die president voorgestel. Angel Khanyile van die DA sê die raad is ‘n belangrike rolspeler in bekamping van geweld teen vroue en kinders:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het ‘n mylpaaluitspraak deur die Internasionale Hof van Justisie verwelkom wat bevestig die reg om te staak word deur internasionale reg beskerm. Claude Naicker van die vakbond sê die besluit versterk wêreldwyd die vryheid van assosiasie en kollektiewe bedingingsregte vir werkers. Hy sê die uitspraak versterk grondwetlike beskerming in Suid-Afrika en behoort beleidmakers te lei om arbeidsregte te respekteer. Hy het ‘n beroep gedoen op betekenisvolle dialoog tussen die regering en maatskaplike vennote:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het ‘n onwettige vervaardigingsaanleg vir gewigsverliesmedisyne in Silverton, Pretoria, gesluit na klagtes oor ongereguleerde vervaardiging. Die fabriek het semaglutied en tirzepatide sonder behoorlike magtiging vervaardig. Woordvoerder, Mokgadi Fafudi, sê inspekteurs en die Suid-Afrikaanse Aptekersraad, het tydens ‘n klopjag onverklaarde aktiewe bestanddele en produkte ontdek. Sy sê die operasie was onregmatig al is die perseel onder die Aptekerswet geregistreer, en ondersoeke na die wyer verspreidingsnetwerk duur voort.
# Sokker: Mamelodi Sundwons het ‘n rekordbedrag van 100-miljoen-rand se prysgeld ontvang toe hulle die Afrika-kampioenebeker die tweede keer verower het. Die Brazilians het gister in Rabat, Marokko met een-elk gelykop gespeel teen AS FAR in hulle tweede kragmeting nadat hulle verlede week die eerste een in Pretoria 1-0 gewen het. Afrika se beheerliggaam het onlangs goedkeuring gegee dat die prysgeld vanaf sowat 65,3-miljoen-rand verhoog word. AS FAR het sowat 32,6-miljoen-rand verdien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-415-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-568-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….