Nuus 08:00
BULLETIN 25 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Groep ministers sal vandag dringend vergader om betogings teen onwettige immigrasie te bespreek
# AfriForum sê die moord op ‘n paartjie in die Krugerwildtuin is ‘n saak van nasionale belang
# En sokker: Mamelodi Sundowns is die CAF Kampioeneliga-wenners vir die tweede keer
# Die ministers vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit het vir vandag ‘n dringende vergadering in Pretoria belê om die toenemende betogings teen immigrasie en onwettige buitelanders in die land te bespreek. Daar is ʼn beroep op die regering gedoen om immigrasiewette toe te pas en teen ongedokumenteerde buitelanders op te tree. Die ministers sal ʼn raamwerk finaliseer vir die nasionale aksieplan om rassisme, rassediskriminasie, vreemdelingehaat en verwante onverdraagsaamheid te bekamp. Hulle sal ook met politieke partye en verskeie groepe beraadslaag wat betrokke was by massabetogings en gemeenskapsoptogte teen onwettige buitelanders.
# Die DA oorweeg sy benadering om die Mededingingswet te wysig om anti-mededingende eksklusiewe ooreenkomste in kleinhandel aan te pak. Die party sê ‘n geskil tussen Woolworths en die visverskaffer Grey’s Marine het die klein onderneming gedwing om te sluit nadat hy langer as 30 jaar Woolworths se verskaffer was. Die DA-lid, Toby Chance, sê hierdie kwessie het na vore gekom ná die likwidasie van Beyers Chocolates, ook na ‘n geskil met Woolworths oor eksklusiwiteits-ooreenkomste:
# AfriForum doen ‘n beroep op owerhede om die ondersoek na die moord op ‘n bejaarde egpaar in die Krugerwildtuin as ‘n saak van nasionale belang te hanteer. Hul liggame is ná ‘n soektog by ‘n piekniekplek by Crooks Corner by die samevloei van die Limpopo- en Levubu-rivier gevind nadat hulle nie na hul kamp teruggekeer het nie. Jacques Broodryk van AfriForum sê die voorval wek kommer oor die veiligheid van besoekers aan dié wêreldbekende erfenisgebied:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê Rusland se gebruik van sy hipersoniese Oreshnik- ballistiese missiel mag nie ongestraf bly nie. Moskou het die naweek ʼn massiewe aanval op Kiëf en die omliggende streek uitgevoer waarin minstens vier mense dood en ongeveer 100 beseer is. Die Russiese ministerie van Verdediging sê dis uit weerwraak vir Oekraïne se “terroriste-aanvalle” op burgerlike teikens in sy gebied. Dis die derde keer dat Rusland die Oreshnik- ballistiese missiel in konflik gebruik, Dis ontwerp om kernplofkoppe te dra.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het hul tweede Kampioeneliga-titel opgeraap na ʼn gelykoptelling van een elk teen AS FAR in die tweede deel van die eindronde in Rabat, Marokko. Dit was genoeg om die 2016-kampioene ʼn 2-1-sege in totaal te besorg nadat hulle die Marokkaanse span verlede naweek in die eerste deel in Pretoria met 1-0 geklop het. Sundowns het hul plek in die komende FIFA Interkontinentale Beker en die FIFA Klub-Wêreldbeker verseker. Kaptein Ronwen Williams sê hulle verdien dit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-999-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….