Nuus 15:00
BULLETIN 21 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse ondernemings wil beleggings in Botswana uitbrei
# Meta se jongste afleggings sny agt-duisend poste
# En tennis: Nadal se dokumentêre reeks word aan die begin van die Franse Ope bekendgestel
# President Cyril Ramaphosa sê verskeie Suid-Afrikaanse ondernemings wil beleggings in Botswana uitbrei om werkskepping en vaardigheidsontwikkeling ‘n hupstoot te gee. Hy het op die sesde Suid-Afrika-Botswana-bi-nasionale kommissie se beraad die langdurige bande tussen die buurlande geprys en Botswana bedank vir sy ondersteuning tydens Suid-Afrika se anti-apartheidstryd. Ramaphosa sê die kommissie is steeds belangrik om samewerking te versterk, handel te balanseer en nuwe geleenthede vir ekonomiese groei en streekswelvaart te identifiseer:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê wêreldwye ontwikkelings, insluitend die konflik in die Midde-Ooste en stygende ruoliepryse, het ‘n negatiewe uitwerking op plaaslike handelstoestande. Verlede maand se opname oor handelstoestande toon 75-persent van ondernemings het hoër insetkoste aangeteken, met die meeste wat verdere stygings binne die volgende ses maande verwag. Die Handelsbedrywigheids-aanwyser het van 50 tot 43 gedaal, met verkoopsvolumes en nuwe bestellings wat afgeneem het. Uitvoerende hoof Alan Mukoki sê stygende brandstof- en elektrisiteitskoste plaas druk op ondernemings en verwagtinge rondom indiensneming.
# Die MK-party vra die bedanking van die adjunkminister in die Presidensie, Steve Letsike, as vise-president van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad. Die party sê Letsike se dubbele rol wek kommer oor bestuur, etiek en die onafhanklikheid van die reguleerder. Patrick Motubatse van die party het aan SABC News gesê ‘n dienende adjunkminister moenie ‘n pos in ‘n onafhanklike statutêre instelling beklee nie, en waarsku dit kan openbare vertroue ondermyn:
Nuus uit die buiteland:
# Die moedermaatskappy van sosiale mediaplatforms soos Facebook en WhatsApp, Meta, het hierdie week met sy jongste ronde afleggings begin, wat tien-persent van sy werksmag of ongeveer agt-duisend poste sny. Werkers wat tot dusver geraak word, sluit in diegene in die kuberveiligheids-, integriteits- en inhoudsontwerp-afdelings. Meta sê die posverminderings vorm deel van sy voortgesette pogings om die onderneming beter te bestuur en sy ander beleggings te help verreken, insluitend in kunsmatige intelligensie. Meta het reeds ongeveer twee-duisend poste gesny tydens twee kleiner rondes.
# Tennis: Die legendariese Spaanse speler Rafael Nadal sê hy het probeer om eerlik en deursigtig te wees in sy dokumentêre reeks. Dit sal van Sondag op Netflix gestroom word aan die begin van die Franse Ope, wat hy vir ‘n rekord 14-keer gewen het. Die 39-jarige Nadal beskryf dit as ‘n kombinasie van sy sportloopbaan en die probleme wat hy ondervind het, en sê dis ‘n realistiese dokumentêr wat nie alles rooskleurig verf nie. Dit is verfilm gedurende sy laaste seisoen voor sy uittrede einde 2024.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-20 teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-286-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-513-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….