Nuus 11:00
BULLETIN 21 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê daar is uitdagings met onwettige immigrasie in Suid-Afrika
# Trump gee Iran twee keuses en sê hy is nie haastig om ‘n vredesooreenkoms te sluit nie
# En tennis: Spelers betoog teen prysgeld deur hul mediaverpligtinge op die Franse Ope te beperk tot 15 minute
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die vraagstuk van vreemdelingehaat en onwettige immigrasie moet beslissend hanteer word. Veldtogte van groepe wat teen onwettige immigrasie en misdaad gekant is, het die afgelope paar maande in felheid toegeneem. Verskeie politieke partye en burgerlike organisasies het gister ‘n betoging teen ongedokumenteerde buitelanders gelei in Pinetown, KwaZulu-Natal. Ntshavheni sê owerhede tree strenger op teen onwettige immigrante:
# Die Vryemarkstigting sê hy het herhaaldelik gewaarsku dat Nasionale Gesondheidsversekering onbekostigbaar, ongrondwetlik, ekonomies vernietigend en strydig met vryheid van keuse in gesondheidsorg is. Die Konstitusionele Hof het Artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsorg ongrondwetlik verklaar. Hierdie afdelings hou verband met die staat se beheer oor waar gesondheidsorg-praktisyns of praktyke mag wees. Die stigting sê die toenemende regsweerstand teen die NGV weerspieël groeiende kommer oor die uitbreiding van staatsbeheer oor gesondheidsorg en die langtermyngevolge vir pasiënte, mediese beroepslui en die ekonomie.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê Eskom moet geld wat deur die Stad Johannesburg verskuldig is, terugkry sonder om elektrisiteit aan betalende inwoners en sake-ondernemings af te sny. Die organisasie waarsku die beplande onderbrekings in voorsiening sal gemeenskappe onregverdig raak. Woordvoerder Julius Kleynhans sê Johannesburg se finansiële uitdagings beklemtoon dieper mislukkings in bestuur en inkomstebestuur. Hy dring aan die energiereguleerder, Nersa, moet sterker toesig oor munisipaliteite kan uitoefen om te verseker dat hulle hul verpligtinge nakom:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Iran gewaarsku dat hy twee keuses het: sluit ‘n ooreenkoms of Amerika beëindig die oorlog. Trump het Dinsdag hernude aanvalle op Teheran gestaap op versoek van sy bondgenote in die Golf, insluitend Katar en Saoedi-Arabië. Iran waarsku intussen ‘n hervatting van aanvalle sal verrassings en bedreigings vir Amerika buite die streek beteken. Trump is bereid om te wag om die regte antwoord te kry:
# Tennis: Die wêreld se voorste spelers beplan glo om hul mediaverskynings op die Franse Ope tot 15 minute te beperk uit verset teen prysgeld. Baie is van mening hulle ontvang nie ʼn regverdige deel van Grand Slam-toernooie se prysgeld en billike speler-voordele nie. Spelers wat gekies is vir Vrydag se eerste nuuskonferensie sal na 15 minute uitstap. Die gemiddelde Grand Slam-toekenning vir prysgeld is 15-persent van die inkomste terwyl spelers wil hê dit moet tot 22-persent verhoog word. Die Franse Ope se prysgeld is vanjaar met 9,5-persent verhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-20 teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-351-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-497-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….