Nuus 12:00
BULLETIN 21 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika dra 41,2-miljoen-rand by tot die stryd teen Ebola-uitbrekings in die DRK en Uganda
# NAVO sê Amerika se vermindering van soldate in Europa sal nie verdediging benadeel nie
# En tennis: Spelers betoog teen prysgeld deur mediaverpligtinge op die Franse Ope tot 15 minute te beperk
# Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -Voorkoming verwelkom Suid-Afrika se belofte van 41,2-miljoen-rand aan die Afrika-epidemiefonds ter ondersteuning van die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda se stryd teen die Ebola-uitbrekings. Meer as 600 vermeende gevalle en 139 sterftes is tot dusver in die twee lande aangeteken. Die sentrums sê Suid-Afrika se leierskap weerspieël die groeiende belangrikheid van Afrika-geleide befondsingsmeganismes en versterk die droom van ‘n vasteland wat veerkragtig, selfstandig en gesondheidsveilig is.
# Die vakbond GIWUSA vra die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om volgende week die rentekoers te verlaag, al toon Statistiek Suid-Afrika se jongste inflasiesyfers dit het verlede maand van 3,1- tot vier-persent verhoog. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê brandstofprys-skokke het die energie-deel van inflasie baie hoër laat styg en daarom is prysbeheer nodig:
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, sê die metro het sowat 20-miljard-rand nodig om al die probleme met agterstande in waterinfrastruktuur op te los. Hy het voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se ondersoekspan verskyn. Die kommissie ondersoek die waterkrisis wat Gauteng verskeie jare reeds in sy greep het. Mettler het verklaar die vinnige bevolkingsgroei, immigrasie, verouderde infrastruktuur en agterstande plaas voortdurende druk op die metro. Hy het bygevoeg Tshwane ondersoek tans ander maniere om water te verskaf.
Nuus uit die buiteland:
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê Amerika se vermindering van soldate in Europa sal georden wees en nie verdediging benadeel nie. Dit volg op die Amerikaanse president, Donald Trump, se jongste aanval op die alliansie, aangevuur deur kritiek van die Duitse kanselier, Friedrich Merz, oor die Amerikaans-Israelse oorlog in Iran. Rutte sê Trump se voorgestelde onttrekking van vier- tot vyf-duisend soldate sal geen uitwerking op NAVO se verdedigingsplanne hê nie:
# Tennis: Die wêreld se voorste spelers beplan glo om hul mediaverskynings op die Franse Ope tot 15 minute te beperk uit verset teen prysgeld. Baie is van mening hulle ontvang nie ‘n regverdige deel van Grand Slam-toernooie se prysgeld en billike speler-voordele nie. Spelers wat gekies is vir Vrydag se eerste nuuskonferensie sal na 15 minute uitstap. Die gemiddelde Grand Slam-toekenning vir prysgeld is 15-persent van die inkomste terwyl spelers wil hê dit moet tot 22-persent verhoog word. Die Franse Ope se prysgeld is vanjaar met 9,5-persent verhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-17 teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-529-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….