Nuus 17:00
BULLETIN 18 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU beskuldig die SAPD se Forensiese Wetenskaplaboratorium van tekortkominge in beroepsgesondheid en -veiligheid
# Brandbestryders beveg ‘n brand in ‘n denneplantasie naby Bainskloof
# En, Motorsport: Toto Wolff sê Mercedes moet seker maak Kimi Antonelli se voete bly op die grond
# Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-vakbond beskuldig die SAPD se Forensiese Wetenskapslaboratorium van ernstige tekortkominge in beroepsgesondheid en -veiligheid. Die vakbond beweer die SAPD het versuim om verpligte hepatitis-siftingstoetse, mediese toesig en bevestiging van inentings uit te voer soos vereis ingevolge wette oor beroepsgesondheid en -veiligheid. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê sekere werknemers wat vroeg in 2025 vir toetse moes gaan, is nooit evalueer nie, maar het steeds in gevaarlike omgewings gewerk:
# Die afpersingsaak teen die taxi-magnaat Joe Sibanyoni en drie medebeskuldigdes is in die Landdroshof op Kwaggafontein van die rol geskrap. Verdedigingsadvokate, insluitend Shaun Abrahams, het aangevoer daar is nie voldoende bewyse vir die aanklagte nie. Die vier mans word daarvan beskuldig dat hulle na bewering 2,2-miljoen-rand van ’n mynmagnaat in Mpumalanga ge-eis het en is vrygelaat nadat die staatsaanklaer nie opgedaag het nie. Volgens landdros Johannes Erasmus was dit minagting van die hof en ‘n lasbrief vir arrestasie is teen die aanklaer uitgereik:
# Brandbestryders van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit gaan voort met hul pogings om ‘n veldbrand in die Bain’s Kloof-gebied te beheer. Die brand in ‘n denneplantasie word aangedryf deur sterk wind en droë plantegroei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê drie grondspanne, ondersteun deur brandweervoertuie en die Wynland Brandbeskermingsvereniging, veg om die brand te blus:
# Lidlande van die Wêreldgesondheidsorganisasie vergader hierdie week in Genève, Switserland, vir die 79ste byeenkoms. Dit duur van vandag tot Saterdag in die Verenigde Nasies se paleis van nasies. Vanjaar se tema is, “Hervorming van Internasionale Gesondheid: ‘n Gedeelde Verantwoordelikheid”, en ministers van Gesondheid en kundiges van 193 lidlande vergader om belangrike internasionale gesondheidsorg te vorm. Die fokus is op die seldsame hantavirus-uitbreking op ‘n passasierskip en ‘n nuwe Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo.
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, sê hulle moet die jong Italiaanse renjaer, Kimi Antonelli, beskerm teen te veel openbare lof ná die land se sokkerspan weer nie vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het nie. Wolff sê die 19-jarige Antonelli en die wêreld-nommer-een-tennisspeler, Jannik Sinner, het nou die sokkergek-nasie se nuwe sporthelde geword, en Mercedes moet sorg dat Antonelli se voete op die grond bly. Hy het die afgelope drie Grand Prix gewen en het ‘n voorsprong van 20 punte bo sy Britse spanmaat, George Russell, boaan die bestuurders-kampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-461-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-565-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….