Nuus 18:00
BULLETIN 18 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa sê die logistieke hervormings dra vrugte, maar die pas moet versnel
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom inenting van 97-persent van kinders teen masels
# En, Pakistan deel ‘n hersiene voorstel van Iran om die oorlog met Amerika te beëindig
# Business Leadership South Africa sê hervorming van die logistieke sektor is van kritieke belang vir toekomstige ekonomiese sukses. Volgens die jongste data vir die 2025/26-boekjaar het die land se agt kommersiële hawens agt-duisend-630 skeepsaankomste aangeteken. Dit verteenwoordig ‘n toename van nege-persent vergeleke met die vorige boekjaar. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die spoed moet versnel, met die voltooiing van die Netwerkverklaring, meer hawe-konsessies wat afgehandel is, en die behoefte aan transaksie-voorwaardes wat werklik privaat belegging moontlik maak, eerder as om Transnet se monopolie te beskerm.
# Die DA in die Wes-Kaap sê die provinsiale regering is verbind daartoe om kinders te beskerm teen siektes wat met inenting voorkom kan word deur sterk inentingsprogramme en uitreikveldtogte. Sewe-en-negentig-persent van kinders onder een is in die 2025/26-boekjaar teen masels en Duitse masels ingeënt. Woordvoerder Memory Booysen sê die belangrikste uitdagings sluit in verkeerde inligting oor entstowwe, veiligheidsbekommernis in sommige gemeenskappe en toegangsprobleme in afgeleë of hoë misdaadgebiede:
# Die Forum for South Africa beskuldig die Stad Tshwane dat hy staatsfondse misbruik. Dit volg nadat burgemeester Nasiphi Moya onthul het die metro bestee jaarliks minstens 30-miljoen-rand aan die salarisse van geskorste amptenare. Sowat 80-persent hiervan hou verband met die Rooiwal-watersuiweringsaanleg se tenderskandaal, asook ander 2023-sake waarby senior amptenare betrokke is. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê die skandelike uitgawe verraai openbare vertroue:
# Pakistan het ‘n hersiene Iranse voorstel met Amerika gedeel om die konflik in die Midde-Ooste te beëindig, terwyl vredesgesprekke blykbaar vasgeval het. ‘n Pakistanse bron het aan Reuters gesê albei lande verander hulle vereistes aanhoudend. Onderhandelinge sluit in Iran se kern-planne en sy beheer oor die Seestraat van Hormoes. Teheran weier om sy kernprogram te bespreek voor die permanente einde van vyandelikhede. Hy wil ook vergoeding hê vir oorlogskade, ‘n einde aan die Amerikaanse vlootversperring, ‘n waarborg van geen verdere aanvalle, en die hervatting van sy olieverkope.
# Rugby: Die voormalige Springbok-skrumskakel Ivan van Zyl gaan volgende seisoen by die Haaie aansluit. Hy het vir die Bulle gespeel toe hy in 2018 in ses toetse vir Suid-Afrika uitgedraf het. Van Zyl het in 2021 by Saracens aangesluit en 100 wedstryde vir die Engelse span gespeel en hulle ook verskeie kere aangevoer. Die 30-jarige Van Zyl is na Durban gelok na die Bok Grant Williams se vertrek na Japan. Saracens se direkteur van rugby, Mark McCall, sê Van Zyl het op en van die veld ‘n voorbeeld gestel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-833-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-565-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….