Nuus 11:00
BULLETIN 16 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA benoem sy lede vir die Phala Phala-ampsklagkomitee
# COSATU Gauteng waarsku oor ‘n provinsiale finansieringskrisis
# En, ‘n regter van die Oos-Kaapse Hooggeregshof, Belinda Hartle, is geskors oor bewerings van rassisme
# Die DA het die name van vyf lede van die Nasionale Vergadering aan Speaker Thoko Didiza voorgelê vir die Phala Phala Ampsklagkomitee. Die party sal verteenwoordig word deur George Michalakis, Bax Nodada, Glynnis Breytenbach, Karabo Khakhau en Nazley Sharif. Khakhau en Sharif het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die ontslag van onderskeidelik die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, en die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. DA-woordvoerder Baxolile Nodada sê die party bly verbind tot grondwetlike toesig:
# Exxaro Resources het amptelik sy Nuwe Myn 1 by die Matla-steenkoolmyn in Mpumalanga geopen. Dit is ‘n belangrike stap in die verlenging van die lewensduur van die myn en die versterking van Suid-Afrika se energiesekerheid. Die projek is deel van die Matla Life of Mine-inisiatief van 5,2-miljard-rand. Eskom sê die myn sal na verwagting jaarliks sowat 4,2-miljoen ton steenkool lewer vir gebruik in kragstasies lewer. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het tydens die opening die voortgesette rol van steenkool in die ondersteuning van die land se ontwikkelende energiemengsel beklemtoon.
# Cosatu in Gauteng het kommer uitgespreek oor berigte dat die Provinsiale Tesourie onderhandel om te verhoed dat Nasionale Tesourie 1,9-miljard-rand in befondsing vries. Die vakbondfederasie sê miljarde wat vir dienslewering bedoel was, insluitend 1,4-miljard-rand in voorwaardelike toelaes, het onbestee gebly terwyl gemeenskappe verbrokkelende infrastruktuur, oorvol hospitale en groeiende armoede moet verduur. Die federasie het onderbesteding deur departemente soos Gesondheid, Onderwys en Menslike Nedersettings gekritiseer en ‘n beroep gedoen op verantwoordbaarheid, sterker finansiële toesig en dringende optrede om dienslewering regoor Gauteng te verbeter.
# Die Regterlike Dienskommissie het regter Belinda Hartle van die Oos-Kaapse Hooggeregshof geskors hangende ‘n ondersoek deur die Regterlike Gedragstribunaal oor bewerings van neerhalende en rassistiese opmerkings teenoor die registrasieklerk Thozamile Semekazi. Die RDK sê Hartle mag gedeeltelik verhoorde sake afhandel terwyl ‘n tribunaal bewerings ondersoek dat sy vloekwoorde tydens ‘n kantoorvoorval in 2025 geskree het. Hartle ontken die bewerings en sê sy het slegs ‘n enkele vloekwoord gebruik wat nie op Semekazi gemik was nie. Die tribunaal kan ‘n ampsklag aanbeveel indien wangedrag bewys word.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het twee mans in hegtenis geneem in verband met ‘n wydverspreide sosialemedia-video wat wys hoe vroue vuurwapens roekeloos hanteer. Gauteng Misdaadintelligensie het die verdagtes in Tembisa opgespoor, en ongelisensieerde vuurwapens en ‘n gekaapte voertuig teruggevind. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die verdagtes, onderskeidelik 21 en 34 jaar oud, staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, en die besit van ‘n gekaapte voertuig:
# En ten slotte gholf: Aldrich Potgieter is tans gesamentlik derde met die begin van die derde ronde by die 2026 PGA-kampioenskap by die Aronimink Gholfklub. Die 21-jarige Suid-Afrikaner het ‘n openingsronde van 67 geslaan om die voorsprong oor die 18 putjies te deel, en was vir ‘n groot deel van gister se tweede ronde die alleenvoorloper. Een hou oor baansyfer op putjies 17 en 18 het hom egter tot ‘n tweede ronde van 70 laat terugval en hy is nou een hou agter mede-voorlopers Maverick McNealy en Alex Smalley.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….