Nuus 13:00
BULLETIN 16 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê Sisisi Tolashe se afdanking moet breër aanspreeklikheid in die regering aandui
# Eskom vier vandag een jaar sonder beurtkrag
# En, kenners vra beter ondersteuningstelsels vir seuns
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die ontslag van die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, na ernstige bewerings van wangedrag, behoort die begin te wees van ‘n breër strewe na konsekwente verantwoordbaarheid regdeur die regering. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê openbare vertroue word verswak wanneer die gevolge vir wangedrag selektief of polities gedrewe is. Duvenage vra dat alle bewerings van ampmisbruik en korrupsie behoorlik ondersoek word, met betekenisvolle stappe ongeag politieke posisie:
# FirstRand se hoof van infrastruktuur, Judy Kobus, sê Suid-Afrika se groeiende infrastruktuur-agterstand vereis dringende samewerking tussen die openbare en privaat sektor. Die regering se instandhoudingstekorte het in 2025 30-miljard-rand oorskry. Kobus het aan SABC News gesê onlangse hervormings in hernubare energie, water en vervoerinfrastruktuur is bemoedigend. Sy het verwys na die privaat sektor se belegging in hernubare energieprojekte na aanleiding van regulatoriese veranderinge, en bygevoeg dat hervormings waarby Transnet en PRASA betrokke is, ‘n positiewe ontwikkeling is.
# Eskom vier vandag vir die eerste keer sedert 2018, 365 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag . Woordvoerder Daphne Mokoena sê die mylpaal dui op ‘n groot ommekeer vir Suid-Afrika se kragstelsel en ‘n hupstoot vir ekonomiese vertroue. Eskom sê ononderbroke toevoer oor die afgelope jaar het 26,9-miljard-rand in dieselkoste bespaar terwyl die kragvoorsiener aan die volle elektrisiteitsvraag kon voldoen. Sy het die voorsitter van die raad, Mteto Nyati, se standpunt beklemtoon dat die nutsmaatskappy reg geplaas is om energiehervorming en toekomstige beleggings te ondersteun:
# Uganda se Ministerie van Gesondheid het ‘n Ebola-uitbreking bevestig wat verbind word met die Bundibugyo-stam, wat na bewering uit die Demokratiese Republiek van die Kongo versprei het. Een pasiënt is Donderdag in Kampala dood nadat hy onbeheerste bloeding in die waakeenheid ontwikkel het. Gesondheidsowerhede het kontakopsporing- en inperkingsmaatreëls ingestel. Die uitbreking volg op die hakke van ‘n toenemende Ebola-krisis in die Demokratiese Republiek die Kongo. Minstens 65 sterftes en meer as 240 vermeende gevalle is aangemeld. Uganda se Ministerie van Gesondheid sê egter daar is geen rede tot kommer nie.
# Sokker: Orlando Pirates is op die punt om die Premierliga-titel te wen en benodig slegs drie punte van hul laaste twee wedstryde. Die Buccaneers, wat die liga 14 jaar laas gewen het, het voordeel getrek uit Mamelodi Sundowns se nederlaag van 3-2 teen TS Galaxy. Pirates ontmoet Durban City vanmiddag op die Orlando Arena. Durban City is vars terug na sy Nedbankbeker-sukses, en mik na ‘n top-agt-eindstryd ondanks ‘n liga-reeks droogte van nederlae in ses wedstryde. Pirates wil voortbou op hul sterk vertoning tuis met ‘n oorwinning wat Sundowns se oorheersing van die plaaslike liga kan beëindig.
# En ten slotte, kampvegters vir kinderbeskerming sê seuns word dikwels van ondersteuningstelsels uitgesluit omdat instellings nie hul kwesbaarheid erken nie. Die wêreld herdenk vandag die Internasionale Dag van die Seun. In hul meningsartikel in Daily Maverick voer Aluta Sneke en C Anzio Jacobs aan dat skadelike sosiale norme seuns ontmoedig om hulp te soek of hul emosie uit te druk. Hulle sê bewyse van programme wat deur die Nelson Mandela Kinderfonds ondersteun word, toon dat seuns positief reageer wanneer veilige ruimtes en berading verskaf word, wat help om geweld, trauma en selfvernietigende gedrag te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….