Nuus 18:00
BULLETIN 15 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir ‘n hersiening van plaaslike regering om die voortdurende diensleweringskrisis op te los
# Die dieselprys sal na verwagting in Junie daal, maar petrol sal waarskynlik weer styg
# En, Rugby: SARU skiet minister Gayton McKenzie’s se droom aan skerwe om nog ‘n Wêreldbeker in Suid-Afrika aan te bied
# President Cyril Ramaphosa het ‘n reusehersiening van plaaslike regering gevra om Suid-Afrika se voortdurende diensleweringskrisis aan te pak. Ramaphosa het tydens die Nasionale Raad van Provinsies se program om die parlement na die mense in Noordwes te neem, gesê munisipaliteite is deurslaggewend tot die lewering van basiese dienste en om ontwikkeling aan te dryf. Hy waarsku ook swak bestuur, korrupsie en gebrekkige administrasie ondermyn gemeenskappe:
# Volgens die Sentrale Energiefonds se middelmaand-data sal dieselpryse na verwagting in Junie daal, wat verligting aan boere, logistieke ondernemings en motoriste sal bied. Petrolpryse sal na verwagting met tussen 13- en 19-sent per liter styg, terwyl diesel met tussen drie-rand-52-sent en vier-rand-41-sent per liter kan daal. Finale brandstofprysaanpassings sal aan die einde van dié maand aangekondig word en hang af van wêreldoliepryse, wisselkoerse en plaaslike brandstofheffings.
# Advokaat Adila Hassim, getuienisleier van die Madlanga-kommissie, het die kommissie versoek om die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi te verwys vir ondersoeke vir oortredings van die Kommissie se Wet en regulasies. Hassim het teen die onttrekking van getuienisleier Michael Charlkalson geargumenteer en gesê Mogotsi het ‘n wesenlik onvolledige WhatsApp-rekord voorgelê en erken dat sleutelmateriaal daaruit verwyder is. Hassim het aan die kommissie gesê dit wek kommer oor moontlike meineed en vervalsing. Sy voer aan Mogotsi het die kommissie mislei:
# Afrika se topgesondheidsagentskap het ‘n Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek van die Kongo se oostelike Ituri-provinsie verklaar. Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming sê ongeveer 246 gevalle en 65 sterftes is aangemeld, hoofsaaklik in die goudmyndorpe Mongwalu en Rwampara. Die sentrum reël tans ‘n vergadering met buurlande en ander internasionale vennote om reaksiepogings en oor-grens toesig te bespreek. Die virussiekte is die eerste keer in 1976 ontdek en het vermoedelik van vlermuise versprei. Daar is geen bewese geneesmiddel vir Ebola nie en die gemiddelde sterftesyfer is ongeveer 50-persent.
# Rugby: SA Rugby sê daar is geen planne om te bie vir 2035 se Wêreldbekertoernooi nie, ondanks die kommentaar van die minister van Sport, Gayton McKenzie. Hy het dié week gesê hy sal nie rus voor Suid-Afrika die toernooi weer aanbied nie nadat die Springbokke die tuistoernooi in 1995 gewen het. Maar SA Rugby se president, Mark Alexander, en uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê dis finansieel onhaalbaar vir Wêreldrugby om die toernooi na Suid-Afrika te bring omdat hy finansieel die meeste in Europa baatvind uit sy beste geldmaker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-957-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-535-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….