Nuus 07:00
BULLETIN 16 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi gearresteer oor die beweerde opgemaakte sluipmoord in Vosloorus
# President Ramaphosa sê die vloedramp beklemtoon die dringende behoefte aan meer doeltreffende plaaslike regering
# En in rugby, ‘n uitgebreide Junior Bokke oefengroep is aangewys vir die onder-20 internasionale reeks
# Die SAPD het die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi in hegtenis geneem vir regsverydeling na ‘n beweerde opgemaakte moordpoging in Vosloorus verlede November. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê ‘n multidissiplinêre wetstoepassingspan het Mogotsi met ‘n J50-lasbrief vir inhegtenisneming onderskep terwyl hy op pad was na Johannesburg nadat hy voor die Madlanga-kommissie getuig het. Mathe sê die polisie het ook ‘n vuurwapen gekonfiskeer wat met ander ernstige geweldsmisdade verbind word:
# President Cyril Ramaphosa sê die onlangse vloedramp beklemtoon die dringende behoefte om plaaslike regering te versterk. Hy het gister die Nasionale Raad van Provinsies se program om die parlement na die mense te neem, in Noordwes toegespreek. Volgens Ramaphosa ontbloot erge weerstoestande swakhede in infrastruktuur, rampvoorbereiding en dienslewering op munisipale vlak. Hy voeg by die regering moet belê in infrastruktuur wat meer veerkragtig is en moet verseker munisipaliteite word beter toegerus om klimaatverwante rampe te hanteer:
Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê intussen herstelpogings duur voort nadat ernstige oorstromings wydverspreide skade regoor die streek veroorsaak het. Verskeie paaie en bergpasse is steeds gesluit of ontoeganklik, en watertoevoeronderbrekings raak dorpe soos Worcester, Bonnievale, Gouda en Saron, met gesondheidsorgdienste wat op plekke ook geraak word. Jo-Anne Otto van die munisipaliteit sê ten minste vier mense is dood, met honderde wat ontheem is en in skuilings gehuisves word.
# Die saak teen die hoof van SAPD Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en ses medebeskuldigdes, is deur die Pretoriase Landdroshof tot 3 September uitgestel. Die vertraging volg op hangende regsvertoë wat by die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging ingedien is. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die beweerde onreëlmatige aanstelling van ‘n ongekwalifiseerde burgerlike in Misdaadintelligensie. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het die ondersoeke voltooi en is gereed vir die verhoor sodra die vertoë gefinaliseer is.
# Vyf Italianers is dood in ‘n skubaduik-ongeluk in die Maldive. Die Italiaanse Ministerie van Buitelandse Sake in Rome sê die duikers het vermoedelik gesterf toe hulle grotte wou verken op ‘n diepte van 50 meter. Vier van die duikers was deel van ‘n span van die Universiteit van Genua, insluitend ‘n professor in Ekologie, Monica Montefalcone, haar dogter en twee navorsers. Duik- en snorkelongelukke is redelik seldsaam in die Maldive, hoewel sterftes al aangemeld is. Die voorval word beskryf as die dodelikste duikongeluk tot dusver in die klein Indiese Oseaan-nasie.
# En slotte rugby: Die hoofafrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote het ‘n uitgebreide oefengroep vir die komende onder-20 internasionale reeks teen Chili, Fidji en Georgië aangewys. Die eerste spelers van die groep van 26 sal Maandag by hulle basis by die Stellenbosch Akademie vir Sport aanmeld, terwyl spelers wat onlangs in Gqeberha gespeel het, ‘n ekstra week ruskans kry. Die groep sluit spelers in wat deelgeneem het aan die vorige twee Junior Bok-oefenkampe, die kort toer na Georgië en die onder-20 Rugbykampioenskap wat Suid-Afrika gewen het. Die losvoorspeler Quintin Potgieter is ‘n nuwe toevoeging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….