Nuus 07:00
BULLETIN 12 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy sal voortgaan om Suid-Afrikaners te dien en hul belange te bevorder
# Die gure weerstoestande in Kaapstad duur vandag voort
# En, Tyla gaan by die openingseremonie van die Sokker-wêreldbeker in Noord-Amerika optree
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om die ekonomie te herbou, instellings te herstel en die samelewing te hernu. Hy het die land gisteraand by die Uniegebou toegespreek en gesê hy gaan die onafhanklike paneel se verslag oor Phala Phala op hersiening neem. Ramaphosa sê hy word deur die oppergesag van die reg en die beginsel van aanspreeklikheid gelei, en is voornemens om die mandaat wat aan hom gegee is, na te kom en te voltooi:
# Die vakbond SACCAWU veroordeel Pick ‘n Pay se voorgestelde herstrukturering, wat ongeveer 22-duisend werknemers raak. Sithembele Tshwete van die vakbond waarsku werkers kan moontlike afleggings of afwaartse aanpassing van werksomstandighede ondervind, insluitend minder ure, verlies aan voordele en veranderinge aan skofreëlings. SACCAWU beskuldig die maatskappy daarvan dat hulle interne onderhandelinge omseil en sê hulle sal pogings teenstaan wat kollektiewe ooreenkomste verswak of werksekerheid ondermyn.
# Kaapstad se Ramprisiko-bestuursentrum sê die kouefront wat die land gister getref het, het aansienlike gevolge gehad. Hewige storms het oorstromings, kragonderbrekings en skade veroorsaak en in Kenilworth is een sterfte aangemeld. Die storm duur voort en alle staat- en spesiale skole in die Wes-Kaap is vandag gesluit. Rampbestuur se woordvoerder, Charlotte Powell, sê spanne sal voortgaan om probleme met dienste te hanteer, maar weens die sterk wind kan vertragings voorkom:
# President Donald Trump van Amerika sê die skietstilstand tussen Amerika en Iran is op ‘n naaldpunt. Dit volg nadat hy Teheran se jongste teenvoorstel om vyandelikhede te beëindig, as eenvoudig onaanvaarbaar beskryf het. Amerika se memorandum van een bladsy met 14 punte sluit voorstelle in soos die beëindiging van Iran se uraanverryking en die herstel van vrye beweging deur die Straat van Hormoes. Trump het gister in die Withuis op vrae gereageer en sê hy glo ʼn diplomatieke oplossing is steeds moontlik:
# Tennis: Kommer heers kort voor die Franse Ope oor die fiksheid van die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka van Belarus. Sy moes behandeling ontvang tydens haar derde-ronde wedstryd teen Sorana Cirstea van Roemenië in die Italiaanse Ope en het die wedstryd in drie stelle verloor. Dit was Sabalenka se tweede nederlaag in drie wedstryde nadat sy ook in die kwarteindronde van die Madrid Ope in Spanje teen Hailey Baptiste van Amerika verloor het. Sy hoop om gereed te wees wanneer die Franse Ope op 24 Mei in Parys begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-288-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-733-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse superster, Tyla, sal een van die kunstenaars by die openingseremonie van die FIFA Wêreldbeker wees. Daar sal drie seremonies in die gasheerlande Amerika, Mexiko en Kanada gehou word. Die vieringe begin op 11 Junie in Mexiko waar die Grammy-bekroonde Tyla saam met ander kunstenaars soos J Balvin en Los Ángeles Azules sal optree. Amerika en Kanada se openingseremonies vind op 12 Junie plaas waar Tyla by die SoFi-stadion saam met Katy Perry en Rema sal verskyn.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….