Nuus 13:00
BULLETIN 11 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Versekeraars stel rampplanne in te midde van Wes-Kaapse storms
# Die Christelike Forum sê die ANC moet Suid-Afrikaners om verskoning vra na die uitspraak in die Phala Phala-saak
# En tennis: Ruud sê Sinner word nie altyd waardeer vir wat hy bereik het nie
# Suid-Afrikaanse versekeraars het protokolle vir ramp-eise in werking gestel weens die hewige storms in die Wes-Kaap. Swaar reën, oorstromings en stormsterk wind veroorsaak wydverspreide skade, insluitend ontwortelde bome en skade aan die dak van die Whale Coast-winkelsentrum in Hermanus. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 8-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reënval. Versekeraars, insluitend Santam, sê honderde eise is reeds ingedien. Inwoners word versoek om skade te dokumenteer, eise onmiddellik aan te meld en onnodige ritte te vermy.
Swaar reën en sterk wind beïnvloed ook steeds die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit. Verskeie laagwaterbrûe is ontoeganklik weens oorstromings, insluitend in Slanghoek, Scherpenheuwel, Bonnievale en Lemoenpoort. Burgemeester Elna von Schlicht sê kragonderbrekings raak Witzenberg, De Doorns en Touwsrivier. Sy vra inwoners om binne te bly, verspoelde gebiede te vermy, selfone gelaai te hou en amptelike weerkanale te volg:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum sê die ANC moet die mense van Suid-Afrika onvoorwaardelik en in die openbaar om verskoning vra. Die leier, Marothi Mashashane, sê hierdie verskoning moet die fout spesifiek noem, naamlik die gebruik van ‘n parlementêre meerderheid om aanspreeklikheid in die Phala Phala-saak te ontduik. Hy sê deur te erken die organisasie het ‘n individu bo die Grondwet bevoordeel, sal help om spanning tussen die ANC en die massas te verminder.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê meer as 100-duisend slim ID-kaarte is binne twee maande verwerk sedert die bekendstelling van die uitgebreide digitale vennootskap met handelsbanke. Hy sê hierdie veldtog sal lang toue uitskakel deur landwyd dienste na 110 banktakke te bring. Die doel is ook om een-duisend te bereik met ‘n vyf-minuut lange, papierlose en biometriese aansoekproses. Schreiber versoek Suid-Afrikaners om hul banke te besoek vir slim ID-aansoeke:
# Tennis: Die Noorweër Casper Ruud glo Jannik Sinner word nie altyd behoorlik waardeer nie. Die wêreld-nommer-een mik na ‘n sesde agtereenvolgende Meesters-een-duisend-titel in die Italiaanse Ope in sy geboorteland. Sinner se wenvooruitsigte het verbeter toe al sy hoë-gekeurde uitdagers, Novak Djokovic, Félix Auger-Aliassime, Ben Shelton en Alex de Minaur, uitgeskakel is. Ruud sê Sinner kan geklop word, maar dan moet hulle hom op ‘n af-dag raakloop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-34 teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-876-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-659-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….