Nuus 12:00
BULLETIN 11 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement oorweeg die volgende stappe ná die hofuitspraak oor Phala Phala
# Die Kaapse Wynland is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te midde van gure weer
# En Benjamin Netanyahu sê dis tyd om die Amerikaans-Israelse finansiële verhouding te hersien
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gaan hierdie week met die Parlement se regspan vergader ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala‑saak. Dit hou verband met president Cyril Ramaphosa se hantering van miljoene rand se diefstal op sy plaas in Limpopo in Februarie 2020. Daar is bevind die Parlement se ampsklag-reëls is ongrondwetlik, en wetgewers moet weer met die proses teen Ramaphosa begin. ‘n Ampsklag-komitee moet saamgestel word om die bewerings te ondersoek, terwyl die MK‑party ‘n mosie van wantroue teen Ramaphosa wil indien.
Die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê intussen die ANC het sy parlementêre meerderheid misbruik toe hy die Artikel 89-paneel se verslag verwerp het dat Ramaphosa dalk sy amps-eed oortree het. Sy het in ‘n African Renaissance-potgooi gesê sy is beskaamd:
# Swaar reën en sterk wind beïnvloed steeds die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, met rampbestuurspanne op ‘n hoë gereedheidsgrondslag. Verskeie laagwaterbrûe is ontoeganklik weens oorstromings, insluitend in Slanghoek, Scherpenheuwel, Bonnievale en Lemoenpoort. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê stygende watervlakke in Gouda word ook noukeurig gemonitor. Kragonderbrekings raak Witzenberg, De Doorns en Touwsrivier. Otto vra inwoners om binne te bly, verspoelde gebiede te vermy, selfone gelaai te hou en amptelike weerkanale te volg.
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel hoop om sy afhanklikheid van Amerikaanse militêre hulp binne ‘n dekade te beëindig. Die land wil bande met Golfstate versterk. Steun vir Israel vanuit die Amerikaanse Kongres en die publiek het afgeneem sedert die oorlog in Gaza in Oktober 2023. Netanyahu het aan 60 Minutes op CBS gesê die dalende steun vir Israel in Amerika hou verband met die skerp toename in sosiale media:
# Krieket: Mumbai Indians, wat die Indiese Premierliga al vyf keer gewen het, en Lucknow Super Giants is uitgeskakel. Mumbai het met twee paaltjies teen die heersende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, verloor en na die negende plek afgeskuif. Nog ‘n vyfmalige kampioen, Chennai Super Kings, het Lucknow met vyf paaltjies geklop, wat hulle onderaan die punteleer laat. RCB het na die boonste plek opgeskuif met 14 punte, terwyl Chennai vyfde is met 12 punte. Die boonste vier spanne sal vir die uitspeelrondes kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-739-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-677-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….