Nuus 11:00
BULLETIN 11 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gewese speaker sê die ANC het sy meerderheid misbruik om die verslag oor Phala Phala te verwerp
# Minstens 15-miljoen-rand is op Ramaphosa se plaas gesteel, nie 9,5-miljoen-rand nie
# En krieket: Mumbai Indians en Lucknow Super Giants is uitgeskakel uit die IPL
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê die ANC het sy parlementêre meerderheid misbruik toe hy die Artikel 89-paneel se verslag verwerp het dat president Cyril Ramaphosa dalk sy amps-eed oortree het in verband met die diefstal van buitelandse valuta op sy plaas, Phala Phala. Die Konstitusionele Hof het beslis die besluit was irrasioneel en ongeldig. Mapisa-Nqakula het in ‘n African Renaissance-potgooi gesê sy is beskaamd:
Intussen is minstens 15-miljoen-rand in Februarie 2020 op Ramaphosa se plaas gesteel en nie die byna tien-miljoen-rand wat verklaar is nie. Dit is volgens News24, wat Imanuwela David se finansiële inligting bekom het. Hy word saam met twee ander beskuldig dat hulle die kontant, wat in dollars was, gesteel het. Volgens Ramaphosa se voorlegging aan die onafhanklike Artikel 89-paneel is sowat 9,5-miljoen-rand gesteel. News24 berig die polisie kon David net in 2020 en 2021 verbind met kontantdeposito’s of regstreekse kontanttransaksies van byna 15-miljoen-rand.
# Kaapstad se rampbestuursentrum monitor die uitwerking van die tweede agtereenvolgende kouefront wat die stad vanoggend bereik het, gepaard met swaar reën en sterk wind. Oorstromings het in informele nedersettings voorgekom, asook kragonderbrekings en bome wat omgewaai het. Die sentrum se woordvoerder, Charlotte Powell, sê in Mitchells Plain en Hanoverpark is voorvalle aangemeld van dakke wat afgewaai het:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Amerika en Israel se oorlog teen Iran het baie bereik, maar dis nie verby nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Iran se reaksie op ‘n Amerikaanse vredesplan verwerp as heeltemal onaanvaarbaar. Netanyahu het teenoor CBS-60 Minutes beklemtoon dat Trump saamstem dat Teheran se voorraad hoogs verrykte uraan verwyder moet word:
# Krieket: Mumbai Indians, wat die Indiese Premierliga al vyf keer gewen het, en Lucknow Super Giants is uitgeskakel. Mumbai het met twee paaltjies teen die heersende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, verloor en na die negende plek afgeskuif. Nog ‘n vyfmalige kampioen, Chennai Super Kings, het Lucknow met vyf paaltjies geklop, wat hulle onderaan die punteleer laat. RCB het na die boonste plek opgeskuif met 14 punte, terwyl Chennai vyfde is met 12 punte. Die boonste vier spanne sal vir die uitspeelrondes kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-33 teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-750-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-675-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….