Nuus 13:00
BULLETIN 8 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verklaar die Parlement se ampsklag-reël ongrondwetlik in die Phala Phala-saak
# Die DA wil weet of staatsfondse gebruik is vir Ramaphosa se besoek aan die Zimbabwiese president se privaat plaas
# En die gevierde wêreldbekende omgewingskundige David Attenborough is vandag 100 jaar oud
# Die Konstitusionele Hof het beslis teen die Parlement se besluit in die Phala Phala-saak en bevind die ampsklag-proses is ongrondwetlik en ongeldig. Dit hou verband met die diefstal op president Cyril Ramaphosa se plaas. Die hof het bevind die reël verhinder die Nasionale Vergadering om behoorlik te besluit oor die gronde vir ‘n ampsklag. Hoofregter Mandisa Maya het die Parlement se stemming van 2022 tersyde gestel, en ‘n ampskomitee moet nou die kwessie oorweeg:
Die DA gaan intussen parlementêre vrae aan die Presidensie voorlê om vas te stel of staatsfondse gebruik is om Ramaphosa se besoek aan Zimbabwe te befonds. Ramaphosa het Sondag sy Zimbabwiese ampsgenoot, Emmerson Mnangagwa, op sy privaat plaas besoek. Die Zimbabwiese sakeman Wicknell Chivayo, wat deur die Valke ondersoek word oor geldwassery, was ook daar. Die DA-lid Ryan Smith sê Ramaphosa se ontmoeting met Chivayo was nie per toeval nie:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, se Arbeidersparty het groot verliese gely in plaaslike verkiesings, terwyl Nigel Farage se Reform UK-party beduidende winste behaal het. Sowat vyf-duisend setels was op die spel in Engeland, Skotland en Wallis. Vroeë uitslae toon die Arbeidersparty het beheer verloor oor agt rade, terwyl Reform meer as 300 setels bygekry het. Reform se onderleier, Richard Tice, sê die uitslae bevestig hul prestasie in plaaslike rade:
# Tennis: Die groot name in manstennis begin vandag hulle veldtogte op die Italiaanse Ope in Rome nadat hulle in die eerste ronde loslootjies gehad het. Die plaaslike held en wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is die topgekeurde. Die Duitser Alexander Zverev is tweede in die afwesigheid van die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje. Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, keer terug na ‘n lang afwesigheid weens beserings. Die toernooi is die laaste voorbereiding vir die kleibaan-Grand Slam-toernooi, die Franse Ope, wat op 24 Mei in Parys begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-28 teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-962-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-721-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Die man wat die natuur en sy wonders vir baie jare na miljoene TV-kykers reg oor die wêreld gebring het, David Attenborough, is vandag 100. Hy het sy deurbraak in 1979 gemaak met die TV-reeks ‘Life on Earth‘ in die Verenigde Koninkryk. Attenborough sal vandag die mylpaal vier met ‘n spesiale BBC-program, ‘Secret Garden‘, ‘n konsert, natuurwandelings en boomplanting. Sy maklik-herkenbare stem is na meer as 70-jaar van rolprent-vervaardiging sinoniem met die verhaal van die natuur, en hy is steeds aan die voorpunt van omgewingsbewaring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….