Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na rugby: Die Junior Springbokke se hoofafrigter, Kevin Foote, het deurlopendheid gekies vir môre se laaste wedstryd van die Onder-20-Rugbykampioenskap teen die tweemalige kampioen, Nieu-Zeeland, op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Die enigste verandering aan die span wat Australië verlede naweek geklop het is op die bank, waar die losvoorspeler Risima Khosa vir Gert Kemp vervang. Suid-Afrika, wat bo-aan die punteleer is met tien punte, het slegs een punt nodig om die titel die eerste keer in te palm. Afskop is twee-uur die middag.
Ander rugbynuus, die Stormers, die Leeus en die Bulle benodig belangrike oorwinnings in die naweek se voorlaaste groepsronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die drie Suid-Afrikaanse spanne is steeds in die wedloop om tuis-kwarteindstryde te beklink. Die Stormers, die voorlopers op die punteleer, speel vanaand in Belfast teen Ulster, wat agste is. Die sewende-geplaaste Bulle pak Zebre môre in Pretoria, en die derde-geplaaste Leeus speel teen die vierde-geplaaste Leinster in Dublin. Die Haaie, wat nou tiende op die punteleer is, speel in Durban teen die 13de-geplaaste Benetton.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê spelers voel hulle kry nie die respek wat hulle verdien van die vier Grand Slam-toernooie se organiseerders nie. Die vroue-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het onlangs gesê spelers sal in ‘n stadium een van die Grand Slam-toernooie boikot as hulle nie ʼn groter persentasie ontvang van die inkomste wat geskep word nie. Die Italianer sê spelers gee baie meer as wat hulle terugkry:
# Gholf: Die eerste vrouekaptein in die eeue-oue geskiedenis van die Royal & Ancient‑klub in St Andrews, Skotland, neem in September die leisels oor. Claire Dowling sal vir ‘n termyn van een jaar dien nadat voormalige kapteins haar benoem het. Sy was een van die eerste vroue om by die klub aan te sluit toe lidmaatskap 12-jaar gelede vir vroue oopgestel is nadat slegs mans vir 260-jaar toegelaat is. Dowling het op die reëlingskomitee en die algemene komitee gedien nadat sy vroeër vir Groot‑Brittanje en Ierland gespeel het.
# En laastens, Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het alle beperkings op Belarussiese atlete opgehef. Belarussiese en Russiese atlete is uit Olimpiese kompetisie geskors ná Moskou se inval in Oekraïne in 2022. Belarussiese atlete mag nou onbeperk deelneem, asook aan kwalifiserende kompetisies voor 2028 se Spele in Los Angeles. Die I-O-K se president, Kirsty Coventry, sê beperkings bly van krag op Rusland na sanksies deur die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….