Nuus 07:00
BULLETIN 6 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrikaners is nie gekant teen mense van Afrika nie
# Die MK-party verwerp stamgebondenheid as deel van die immigrasiekrisis
# En Donald Trump hou vol Iran wil ‘n ooreenkoms sluit
# President Cyril Ramaphosa het weer bevestig dat Suid-Afrikaners nie inherent teen mense van ander Afrikanasies is nie. Hy het gister in Pretoria met president Daniel Francisco Chapo van Mosambiek vergader, waar hulle uitgebreide gesprekke oor sake van gemeenskaplike belang gevoer het. Dit volg nadat Nigerië, Ghana en Mosambiek amptelik by die regering gekla het oor die manier waarop hul landsburgers te midde van xenofobiese spanning in die land behandel word. Ramaphosa sê hulle sal ‘n oplossing vind:
Die MK-party sê op sy beurt onwettige immigrasie is ʼn ernstige nasionale kwessie wat Suid-Afrikaners van elke stam, taalgroep en provinsie raak. Hy sê dis misleidend en lafhartig om te beweer die probleem is net van toepassing op een gemeenskap of provinsie. Dit volg na betogings oor onwettige immigrasie in die land. Die MK-party sê dis niks nuuts om kommer uit te spreek oor druk wat onwettige immigrante op werksgeleenthede, behuising en basiese dienste plaas nie. Hy sê die strukturele uitdagings van onwettige immigrasie word nie deur stamgebondenheid verberg of opgelos nie.
# Solidariteit Helpende Hand sê studente dra die swaarste las van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se voortdurende krisis, nadat dit onder administrasie geplaas is. Die organisasie voer aan die probleme by die skema strek verder as net befondsingstekorte en dui op dieper bestuursmislukkings en swak finansiële beheermaatreëls. Hannes Noëth van Solidariteit sê operasionele ineenstortings laat studente met agterstallige betalings, verblyf-uitdagings en onsekerheid oor hul studies:
# Die Vryheidsfront Plus doen ‘n beroep op die Stad Tshwane om ‘n interne forensiese eenheid op die been te bring, aangesien die huidige gebruik van privaatspeurders duur en ondoeltreffend is. Volgens die party bestee die stad ongeveer 300-duisend-rand per ondersoek, met ongeveer een-duisend sake wat steeds onopgelos is en wat tot 450-miljoen-rand kan kos. Peter Meijer van die VF Plus glo ‘n interne eenheid sal koste verminder, interne vaardighede bou en vinniger resultate lewer.
# President Donald Trump van Amerika sê Iran wil ʼn ooreenkoms sluit en hou vol dat ʼn onderhandelde skikking steeds moontlik is. Amerika se leër plaas druk op Teheran, deur onder meer te keer dat skepe Iranse hawens binnegaan of verlaat. Die Amerikaanse Sentrale Bevel se blokkade van die Straat van Hormoes het tot dusver 51 skepe onderskep. Trump het by die Withuis gesê hy is gewillig om Iran se ekonomie te vernietig, want hy wil wen:
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, mag aan volgende jaar se Ryder-beker by Ierland se Adare Manor deelneem nadat hy ʼn ooreenkoms met die DP World-toer bereik het. Die 31-jarige Spanjaard het geweier om boetes te betaal omdat hy sedert 2024 sonder amptelike toestemming aan LIV-gholftoernooie deelgeneem het. Die ooreenkoms sluit in dat Rahm al sy uitstaande boetes van 2024 tot op hede betaal, asook deelname aan sekere DP World-toernooie in die res van die seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-254-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-622-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….