Nuus 13:00
BULLETIN 5 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ondersoek die NCC-leier, Fadiel Adams vir inmenging in ‘n moordsaak
# Die GOOD-party vra weer aanspreeklikheid vir die gebouramp in George
# En gholf: Tiger Woods gaan waarskynlik die Amerikaanse Ope en die Amerikaanse Senior Ope misloop
# Die polisie se taakspan vir politieke moorde moedig die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, aan om hom oor te gee. ‘n Lasbrief is uitgereik vir sy inhegtenisneming op aanklag van bedrog en regsverydeling in verband met die ondersoek na die moord op ‘n ANC-raadslid van Umzimkhulu, Sindiso Magaqa, in 2017. Die polisie se woordvoerder Athlenda Mathe sê Adams het versuim om in die hof te verskyn of by ‘n polisiestasie aan te meld:
# Die GOOD-party gaan voort om hom te beywer vir aanspreeklikheid in die gebouramp in George in die Wes-Kaap. Dis môre twee jaar sedert 34 mense dood en 28 beseer is toe ‘n ontwikkeling van vyf verdiepings ingetuimel het. Woordvoerder Chantelle Kyd sê die polisie-ondersoek is begin Februarie afgehandel en die dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig, maar niemand is nog aangekeer nie en min inligting is bekend gemaak:
# Die taxi-organisasies CATA en CODETA het beloof om langdurige geweld oor roetegeskille in Kaapstad te beëindig. Hulle het op Nyanga se taxistaanplek vergader. CODETA se voorsitter, Nceba Enge, sê die ooreenkoms weerspieël ‘n ernstige verbintenis tot vrede, terwyl CATA se voorsitter, Nkululeko Sityebi, beklemtoon verskille moet opgelos word deur dialoog en nie deur geweld nie. Die vete het gelei tot dodelike skietervoorvalle in gebiede soos Nyanga, Delft, Lwandle en Khayelitsha.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering maan munisipaliteite in talle provinsies om hul gereedheid- en reaksie-maatreëls te aktiveer. Dit volg na ʼn waarskuwing deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens dat ʼn afsny-laagdrukstelsel na verwagting tussen vandag en Donderdag die weer in groot dele van die land gaan beïnvloed. Dit sluit swaar reën en winderige toestande in. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê munisipaliteite moet dringend optree om die uitwerking te versag:
# Gholf: Die hoof van die Amerikaanse Gholfvereniging, Mike Whan, sê dis hoogs onwaarskynlik dat die 15-malige major-kampioen, Tiger Woods, aan die Amerikaanse Ope en Amerikaanse Senior Ope sal deelneem. Die 50-jarige Woods word volgens berigte in Switserland behandel nadat hy van dronkbestuur aangekla is ná ʼn motorbotsing in Florida in Maart. Whan sê wat Woods tans deurgaan, is baie groter as die spel. Die Amerikaanse Ope vind in Junie op die Shinnecock Hills-gholfklub in Southampton, New York, plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-697-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 111-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….