Nuus 14:00
BULLETIN 4 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Reuse-brandstofprysverhogings is vanaf Woensdag bevestig
# Die Madlanga-kommissie se verrigtinge word uitgestel weens ‘n tegniese fout
# En die voormalige New Yorkse burgemeester Rudy Giuliani is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal
# Nog ellende wag Woensdag op Suid-Afrikaners by die brandstofpompe. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het reuse-verhogings aangekondig wat môre om middernag in werking tree, aangevuur deur hoër internasionale oliepryse, ontwrigting in voorsiening en geopolitieke spanning wat ru-oliemarkte beïnvloed. Petrolpryse sal met drie-rand-27-sent per liter styg en diesel met ses-rand-19-sent per liter. Lampolie en vloeibare petroleumgas sal ook beduidend duurder word. Mantashe sê ondanks brandstofheffing-verligtingsmaatreëls, laat internasionale kostedruk steeds plaaslike brandstofpryse opgaan.
# Die Madlanga-kommissie se verrigtinge is weens tegniese probleme uitgestel. ‘n Misdaadintelligensiebeampte wat met informante werk, Getuie G, sal gedeeltelik in camera getuig. Die getuie se regsverteenwoordiger, Tshepo Matlala, het voorheen gewaarsku die openbaarmaking van sy kliënt se identiteit kan lewens in gevaar stel. Die kommissie sê sekere gedeeltes van die tweedaagse getuienis mag dalk heeltemal privaat aangehoor word en nie vir die publiek vrygestel word nie. Dit is vandag die 100ste dag van getuienisse voor die kommissie wat korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek.
# Die president van die Township-ekonomiese-kommissie van Suid-Afrika, Bheki Twala, sê geweldsmisdaad raak steeds spaza-winkeleienaars. Dit volg nadat ‘n Gautengse spaza-winkeleienaar, Mazwi Kubheka, ontvoer is en byna ‘n maand lank vermis was. Twala het aan SABC News gesê klein dorpsondernemings word aanhoudend bedreig, maar gevalle word selde amptelik aangemeld. Hy waarsku om so ‘n saak nie aan te gee nie verbloem die ware omvang van die probleem:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige burgemeester van New York, Rudy Giuliani, is in ‘n bedenklike maar bestendige toestand in die hospitaal. Die 81-jarige is geloof vir sy reaksie op die terreuraanvalle van 11 September 2001, waarna hy die bynaam “Amerika se burgemeester” gekry het. Giuliani het as ‘n prokureur vir president Donald Trump gewerk in sy mislukte pogings om die uitslag van 2020 se verkiesing omver te werp. Dit het gelei tot strafregtelike aanklagte in twee Amerikaanse state en ‘n laster-regsgeding deur verkiesingswerkers. Hy het oortredings in die strafregtelike sake ontken.
# Sokker: Manchester United se tussentydse hoof-afrigter, Michael Carrick, wou nie sê of hy ‘n permanente pos gaan kry nie en fokus eerder om die seisoen so sterk moontlik af te sluit. Die Rooi Duiwels het Liverpool gister op Old Trafford 3-2 geklop in die Premierliga om ‘n plek in die Kampioeneliga vir volgende seisoen te verseker na ‘n afwesigheid van twee jaar. Carrick loof die spelers en die afrigtingspan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-717-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-541-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….