Nuus 13:00
BULLETIN 4 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Misdaadkenner is bekommerd oor die polisie se deursoeking van Fadiel Adams se vorige huis
# Sewe mense sterf in ‘n botsing in Kariega in die Oos-Kaap
# En rugby: Cheetahs is weer op koers na die uitspeelrondes van die SA-beker
# Die misdaadkenner Chris Kanyane is bekommerd oor spesialis-polisie-eenhede se deursoekings sonder lasbriewe. Dit volg na die naweek se klopjag op die gewese huis van die parlementslid en stigter van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, in Mitchells Plain, Kaapstad. Die taakspan teen politieke moorde word ondersoek na bewerings dat hulle die huis sonder ‘n lasbrief deursoek en klapmusse gedra het. Volgens Kanyane het Adams beweer die beamptes het hulleself nie geïdentifiseer nie. Hy sê sulke gedrag kan openbare vertroue ondermyn, hoewel dringende omstandighede soms sulke polisie-optrede kan regverdig.
# Sewe mense het vanoggend gesterf in ‘n botsing tussen ‘n bus en ‘n minibus-taxi in Kariega in die Oos-Kaap. Nooddienste was op die toneel en het verskeie beseerdes behandel. ‘n Ondersoek na die voorval is ingestel en beamptes versoek motoriste om versigtig te wees en padveiligheid voorop te stel op alle provinsiale roetes.
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers sê sy Nasionale Gesondheidsversekering-saak voor die Konstitusionele Hof is nie ‘n uitdaging vir die beginsel van omvattende gesondheidsdekking nie. Die hof gaan die saak van môre tot Donderdag aanhoor. Katlego Mothudi van die raad sê daar moet bepaal word of die Parlement sy grondwetlike plig nagekom het om betekenisvolle openbare deelname te bemiddel voor wetgewing ingestel word wat die land se gesondheidstelsel onherroeplik sal hervorm:
# Rugby: Die Vrystaatse Cheetahs se klinkende oorwinning van 87-5 oor Grens in KuGompo City (Oos-Londen) het hul veldtog weer aangevuur in die voorlaaste groepsronde van die SA-beker-kompetisie. Dit plaas hulle derde op die punteleer met 30 punte na Griekwas met 40 en die verdedigende kampioen, die Pumas, met 33. Die Pumas het die Boland Kavaliers gister in Mbombela 38-31 geklop in ‘n riller wat agt drieë opgelewer het. Die Pumas is nog op koers om ‘n tuishalfeindstryd te verseker wanneer hulle Vrydag hul laaste groepswedstryd teen die Griffons speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-733-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag Internasionale Brandbestrydersdag en die Stad Kaapstad gee erkenning aan brandbestryders se moed, vasberadenheid en diens. Die metro se Brand- en Reddingsdiens het die afgelope jaar op 30-duisend-302 voorvalle gereageer, wat 454 meer is as die vorige jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê hulle is hoofsaaklik uitgeroep na veldbrande, voertuig- en voetganger-ongelukke, en huisbrande:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….